Stad Tshwane staan Eskom se aansoek om kragvoorsiening aan Mooikloof Megastad oor te neem, teë. Dit volg na openbare verhore wat deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) gehou is oor Eskom se aansoek om sy elektrisiteitsverskaffing-lisensie aan te pas om dié ontwikkeling in te sluit.
In September 2020 het ons berig dat 50 000 deeltitel woonstelle, wat 250 000 mense gaan huisves, langs Garstfonteinweg-verlenging, ongeveer 6 km oos van die kruising met De Ville Bois Mareuilrylaan, gebou gaan word.
Die Mooikloof Mega-stad-projek is die eerste naweek in Oktober 2020 deur president Cyril Ramaphosa geloods as deel van die regering se 62 strategiese infrastruktuurprojekte wat deur die presidensie bestuur sal word.
Die R84 miljard projek strek oor 210 hektaar en sal bestaan uit ’n residensiële deel, wat deur Balwin Properties ontwikkel word, twee opvoedkundige fasiliteite en ’n kommersiële deel. Die teikenmark is mense wat te veel verdien om gratis huise van die regering te kry, maar te min verdien om ’n huislening by ’n bank te kry.
’n Voorstelling van die megastad
Foto: Verskaf
Die projek sal na raming R1,5 miljard in elektrisiteitverkope genereer. Volgens Tshwane woordvoerder, Selby Bokaba, is ’n munisipaliteit se grootste bron van inkomste gebruiksdienste en elektrisiteit bring meer inkomste as alle ander gebruiksdienste in.
Selby het gesê dat die munisipaliteit die reg reserveer om elektrisiteit aan dié projek en enige toekomstige ontwikkelings in die stad, te verskaf. Mooikloof Megastad is beplan om op ’n gedeelte van die plaas Rietfontein ontwikkel te word. Volgens skedule een van die nuutste beskikbare elektrisiteitvoorsiening-lisensie, val dié gebied binne Stad Tshwane se grense. As ’n kategorie A munisipaliteit, het Tshwane uitvoerende mag oor alle plaaslike regeringsake en spesifiek oor die kragnetwerk.
Selby het gesê dat Tshwane bestaande infrastruktuur naby Mooikloof Megastad het en toekomsplanne het om die Zwavelpoort-substasie te ontwikkel, wat kragtoevoer aan die megastad en ander aangrensende ontwikkelings sal bied.
Die ingang na die ontwikkeling toe die bouery net begin het
Foto: Jacques Naude/African News Agency (ANA)
Volgens Selby sou Tshwane verwag het dat Nersa die munisipaliteit in kennis moes stel toe die aansoek om die kragvoorsiening-lisensie te verander, aanvanklik in Maart 2021 ingedien is. Die Wet op Elektrisiteitsregulering dui aan dat toestemming van die lisensiehouer verkry moet word as daar ’n wysiging aan die lisensie gemaak word.
Stad Tshwane het Nersa gevra om redes te verskaf hoekom die munisipaliteit se lisensie om krag aan dié deel van die plaas Rietfontein te verskaf, herroep is. |