Gewapende aanval op kinders wat in Zwavelpoort uitkamp PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 15 October 2009 23:40
Untitled Document

Vyf hoërskoolseuns se Zwavelpoortse uitkampaand om ’n verjaardag te vier het in ’n nagmerrie van gewapende roof ontaard.

Die seuns is op die aand van 29 September vir ’n uur deur ’n gewapende rower in hulle tent aangehou en beroof.

Die voorval was langs ’n dam op plot 125, Zwavelpoort. Damon Munday, wat sy 14de verjaardag gevier het, en sy vriende Jade Letcher, Sanishan Govender, Wayne Richter en Thamaga Makgoba, almal leerders by Woodhill College, het laatmiddag op die Mundays se plot tent opgeslaan. Min het hulle vermoed dat hulle dopgehou word.

Teen omstreeks agtuur die aand was die seuns besig om kaart te speel toe ’n gewapende rower opdaag, ’n vuurwapen teen Thamaga se kop druk en Damon se selfoon, wat op die tafel gelê het, vat. Hy het die seuns vir ’n uur met hulle koppe en hande op die tafel laat sit terwyl hy deur hul besittings gegaan het, hul koeldrank gedrink het en lekkergoed geëet het en aanhou dreig het om hulle dood te maak.

Die rower was ’n swart man wat gebroke Engels gepraat het. Volgens die kinders is hy ongeveer 5,5 voet lank, skraal en het ’n baie donker vel.


Die dam in die Zwavelpoortspruit waar die gewapende roof uitgevoer is. Di dam grens aan Lloyd Munday en Douw Venter se plotte en die Mundays se pekanneut plantasie kan in die agtergrond gesien word

Uittrek
Hy het die kinders gedwing om hulle klere uit te trek, terwyl hy die vuurwapen teen Damon se kop gehou het. Damon moes die sim-kaart uit sy foon haal vir die rower, omdat hy dit nie self kon regkry nie. Hy het egter seker gemaak dat die seuns die regte wagwoord vir ’n skootrekenaar aan hom verskaf.

Behalwe vir die skootrekenaar en Nokia selfoon, het hy ook ’n Ipod Nano, Play Station speletjies, Maglite flits, Nike, Addidas en Puma tekkies, ’n groot hoeveelheid klere, toiletware, komberse, ’n slaapsak en Woodhill College toksak gesteel.

Die rower het die seuns beveel om in die tent te bly met die flap oop sodat hy kon sien wat hulle binne aanvang. Hulle het gedink dat hulle dalk meer as een mens se voetstappe buite die tent hoor, maar die seuns kon nie sien of daar nog rowers was nie.


Damon Munday, wie se verjaardagvieringe deur ?n gewapende rower stopgesit is

SMS
Een van die seuns, Sanishan, het vir sy ma ’n sms gestuur om te sê dat hulle in ’n tent is en dat daar ’n gewapende man buite die tent rondloop. Sy ma het hom eers nie geglo nie, maar na ’n paar SMS boodskappe het sy vir Damon se ma, Carina Munday gebel om te gaan ondersoek instel.

Carina het die Mundays se twee werkers, Agos Aphane en Sophy Nkune, in die bakkie gelaai om saam met haar dam toe te ry. Toe sy daar aankom het die kinders haar gewaarsku dat die rower nog in die omtrek was.

Buurman Douw Venter was gou op die toneel, en ook Community Patrols, Conserv en die polisie. Die gebied is gefynkam, maar geen van die gesteelde goedere of die rower kon gevind word nie.

Berading
Die seuns het daardie aand traumaberading van Dr Anthony van Tonder ontvang. Die dam waar die seuns uitgekamp het grens aan beide Douw Venter en die Mundays se plotte. Dit is stroomop van Hendrik Ver Loren Van Themaat se dam en stroomaf van Charl van der Merwe en die Stofbergs se damme.

Petro Anderson van die Zwavelpoort Inwonersvereniging sê dat die onlangse toename in misdaad in dié gebied onaanvaarbaar is en dat die gemeenskap moet saamstaan en terug baklei.


Damon in gelukkiger dae toe die dam nog net visvang beteken het en nie gewapende roof nie

Rapporteer
Sy sê dat inwoners inligting oor enige soort misdaad moet verskaf en dit korrek moet kanaliseer sodat aksie geneem kan word. Insidente moet aan die polisie, sekuriteitsmaatskappy en die Conserv gemeenskapspatrollies wat in radiokontak met mekaar is, gerapporteer word.

Petro sê dit is ook belangrik om vir ’n mens se werkers te vra om enige verdagte persone of voertuie dadelik te rapporteer sodat die inligting met die gemeenskap gedeel kan word.

Lede van ’n georganiseerde gemeenskap is altyd eerste op ’n misdaadtoneel en kan mekaar dadelik help. Petro sê dat patrollies in die Zwavelpoort, Mooiplaats en Boschkop- gebied opgeskerp is. Mense kan dié patrollies uitken aan hul flitsende groen ligte.

Om aan te sluit by die Zwavelpoort Inwonersvereniging, bel Petro Anderson by 083-604-0074.

 

© 2019 Die/The Bronberger