Grootskaalse nuwe grondeise is
onlangs oor ’n wye gebied van
die Bronberg ingedien.
Die gebiede wat geraak word is
Boschkop 369 JR, Kameelzynkraal
547 JR, Kleinfontein 368 JR, Kleinzonderhout
519 JR, Rietvlei 518 JR,
Tweedraght 516 JR, Witfontein
521 JR, Zwavelpoort 373 JR, Mooiplaas
355 JR, Witpoort 551 JR,
Rhenosterfontein 210 JR en 214 JR,
Nooitgedacht 524 JR en 525 JR en
Klipkop 396 JR.
Dit is egter nie seker of daar verwys
word na Klipkop, met die plaasnommer
654 JR, of Klipkoppies, met die
nommer 396 JR, nie.
Dié grondeise is gepubliseer in die
Staatskoerant 32483 van 14 Augustus
onder notas 1088 en 1089.
Eisers
Die grondeis vir Zwavelpoort is ingedien
deur Funani Kovoet Masemola,
die eis vir Kleinfontein deur Bone
Johannes Mokwena, vir Kameelzynkraal
deur Msongenwa Amos Ntuli,
vir Boschkop deur Julius Kabini, vir
Mooiplaats deur Nomhlekabo
Martha Mncwanga en vir Klipkop
deur Plaatjie Mbankwa Malobola.
Die grondeis vir Kleinzonderhout is
ingedien deur Majoni Jacob Sibiya,
vir Rietvlei deur Somihanauza
Petrus Masango en Buti Joseph Masimula,
vir Tweedraght deur Isaiac
Kabinde, vir Witfontein deur Mapumpane
Joseph Mnyakeni en vir
Witpoort deur Paulus Tshabangu.
Die grondeise vir Rhenosterfontein
210 JR is ingedien deur Mhlojwa
Johannes Masango en Mmama
Sinah Maila, vir Rhenosterfontein
214 JR deur Piet Bangiswani Matseni,
vir Nooitgedacht 524 JR deur
Samuel Mkhuzelwa Kabini en vir
Nooitgedacht 525 JR deur Leope
Simon Tholo.
Besorg
Die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging
(MBGV) het ’n faks
na die Grondeisekommissaris, vir
aandag IS Seboka, gestuur om
grondeienaars se besorgdheid oor
die grondeise aan te dui en om
meer inligting oor die basis van dié
eise te probeer uitvind.
Wolf Snyckers, MBGV voorsitter, sê
dat dié grondeis-registrasies ongelukkig
eers einde September onder
die MBGV se aandag gekom het.
Besorgde partye moes binne 21 dae
vanaf 14 Augustus kommentaar
lewer.
Die MBGV se brief aan die kommissaris
kan gelees word op hul
webtuiste by www.mbpanet.com.
Toekomstige terugvoer van die
kommissaris sal ook op dié webtuiste
gepubliseer word.
 Grondeise is ingedien op dié gebied, soos gesien bo van die Bronberg in
Zwavelpoort af tot by die Magaliesberge in die agtergrond
Verstreke
Die brief vra vir meer inligting oor
die individuele eise vir plase, soos
watter gedeeltes geëis word, wat
die basis vir individuele eise is en die
datums wanneer die grondeise
geregistreer is.
Volgens Wolf het die MBGV verstaan
dat daar ’n tydsbeperking vir sulke
grondeise was wat reeds verstreke
is. Tony Prince van Klipkop Bewarea
sê dat die bewareabestuur probeer
om meer inligting in die hande te
kry, maar hulle het ook verstaan dat
die tyd om sulke eise in te dien, verstreke
is.
Die MBGV se brief vra die kommissaris
of enige eienaars van die grond
wat potensieel deur die eise geraak
word, individueel daarvan in kennis
gestel is of geraadpleeg is. Hy vra
ook of grondeienaars die kans gegun sal word om die geldigheid
van die eise in twyfel te trek.
Regshulp
Peet Grobbelaar, ’n prokureur wat
spesialiseer in grondeise, sê dat hy
eers op 29 September opdrag ontvang
het van sy bestaande kliënte in
die omgewing en dat dit moeilik sal
wees om op so ’n vroeë stadium ’n
opinie oor die eise te lug.
“Dit wil egter voorkom asof die eise
’n aantal individuele huurarbeiderseise
is wat nou as restitusie-eise
gepubliseer word. Die basis van die
eise is egter spekulasie aangesien ek
nog nie die eisvorms gesien het
nie,” sê hy.
Peet sê dit blyk asof die eise ingedien
is deur individue of gesinne
wat voorheen op die plase as huurarbeiders
en/of werknemers woonagtig
was en wie later om een of
ander rede die plase verlaat het.
“Die presiese aard en omvang van
die regte wat die eisers sou geniet
op die plase en die rede vir hul verlating
daarvan is nog op hierdie stadium
onbekend en sal eers ondersoek
moet word,” sê hy.
Volgens Peet is dit egter duidelik dat
die eise nie gebaseer is op voormalige
eienaarskap van die betrokke
grond nie, aangesien voorlopige
navorsing toon dat meeste van die
betrokke grond reeds vanaf die laat
1800’s in private besit was.
Dié eise blyk of hulle gebaseer is op
informele regte of die regte van ’n
huurarbeider, maar sal eers volledig
ondersoek moet word voor Peet ’n
opinie daaroor kan uitspreek.
“Ek het reeds namens van die betrokkenes
’n aansoek op die Grondeisekommissaris
se kantore beteken
in terme waarvan ons toegang versoek
tot al hulle lêers,” sê Peet.
Dié aansoek moet binne 30 dae
aan voldoen word. Indien nie, sal
eienaars geregtig wees om ’n hof te
nader vir gepaste regshulp.
Paniek
Peet sê hy ondervind dat baie
grondeienaars die proses van grondeise
misverstaan en paniekerig raak
wanneer ’n eis gepubliseer word.
In baie gevalle lei dit daartoe dat
eienaars, sonder om eers die meriete
van die eis te ondersoek, bloot
instem om hul grond aan die staat
te verkoop.
Dit het gewoonlik vêrreikende
gevolge vir die plaaslike ekonomie,
huidige plaaswerkers en selfs vir die
grondeisers, wat in meeste gevalle
nie bemagtig is om die eienaarskap
van grond te benut nie.
Baie boerdery-eenhede val dan plat
wat ook ’n negatiewe invloed op
buurmanne kan hê.
Peet adviseer normaalweg sy kliënte
om eers die meriete van die eis te
laat ondersoek voor hulle ’n besluit
maak. Dit is ook baie beter om eise
van dié aard kollektief te bedryf en
te poog om alle betrokkenes onder
een sambreel te groepeer.
Vir meer inligting, bel Peet
Grobbelaar by 012-342-8122 of
stuur vir hom ’n e-pos na
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
. |