As ’n ou perd wat al baie lank
die dorre wintergras en ook
die soet lentelote hier teen die
hang van die Bronberg ervaar, het
ek een ding deeglik geleer. Wel,
eintlik het ek al baie goed geleer,
maar een ding wat soos ’n paal bo
die waarheid uitstaan, is dat onskuldige
misverstande vir die grootste
moeilikheid kan sorg.
Só was dit dan ook ’n misverstand
wat anderdag bykans katastrofiese
moles in ou Gawie se huis veroorsaak
het.
Ou Gawie is ’n goeie ou. Nie een wat
hom sommer oorgee aan die vergrype
en versoekings wat op ’n man
se lewenspad opduik nie. Nou vertel
ou Gawie dat hy op ’n mooi dag in
die groot dorp die nodige aankope
by Nico se Pik-en-Petaal loop doen
het. Hy staan nog so en kopkrap
agter sy trollewaentjie by die wynrak,
sê Gawie, toe sien hy daar van
die groente se kant af ’n aanvallige
jonge dame wat lyk of sy vir hom
waai. En sy glimlag mooitjies in sy
rigting en sy waai weer, sê hy.
Duidelik vir hom, waai sy.
Gawie sê hy rek sy onthouding al die
kante toe, maar hy kan om de dood
nie dink waar hy die jonge dame
vandaan ken nie. Sy lyk effens bekend,
maar dis waar sy onthouding
ophou, sê Gawie. Hy wonder of dit
dalk een van sy vrou se vriendinne
kan wees, maar dan besef hy nie
een van sy vrou se vriendinne is
naasteby só mooi nie. Hy stap
nader, groet vriendelik, soos dit ’n
ordentlike ou betaam, en vra toe
maar: “Jong, waar ken ons mekaar
vandaan?”
Die antwoord wat ou Gawie kry,
skud hom tot in sy diepste wese:
“Ek dink jy is die pa van een van my
kinders,” sê die mooie mens steeds
met ’n gawe glimlag op haar fraai
gesiggie.
Nou sê ou Gawie dat hy nie iemand
is wat sommer oor die tou sal trap
met ’n vreemde vrou nie. Sy kop
maal teen ’n honderd myl per uur
soos hy terugdink oor sy getroude
lewe en oor sy lewe voor dit heen.
En dan gaan daar vir hom stadig ’n
liggie op, sê ou Gawie. “Is jy daardie
paaldanser wat ek destyds op ou
Gert se ramparty raakgedrink het?
Die een wat my agterna R500 gevra
het?” wil Gawie weet.
“Nee,” sê die vrou, “ek is jou seuntjie
se onderwyseres. “En ek drink
juis vanmiddag tee saam met jou
vrou.”
Leer die taal
Gert Mossie sê daar sal sommer
baie minder misverstande en moeilikheid
wees as mans net die taal
van die vrouegeslag wil aanleer.
Soos wat hy deur die jare gedoen
het, sê Gert en hy gee goedgunstiglik
’n paar voorbeelde van wat
vrouens sê en wat dit eintlik
beteken sodat ou Poon dit met die
oningeligte mans onder ons kan
deel:
Ons het dit nodig = Ek wil dit hê.
Maak maar soos jy wil = Doen dit en
jy bars.
Ons moet praat = Ek wil kla en jy
moet luister.
Jy luister nie na my nie = Jy stem nie
met my saam nie.
Nee, ek is nie kwaad nie = Ek is de
duiwel in.
Dis jou besluit = Dis ’n simpel
besluit.
Ek is binne ’n minuut klaar = Skop
maar jou skoene uit en sit die TV
aan.
|