In dié rubriek voorsien inspekteur Wynand van der
Merwe, hoof van Sigbare Polisiëring, SAPD
Boschkop, nuttige landelike veiligheidswenke
Inspekteur
Wynand van
der Merwe
’n Goeie waghond is een van die
beste maniere om misdaad hok
te slaan. Jy soek nie noodwendig
’n jong beer nie; klein honde werk
net so goed. Die geheim lê daarin
om jou honde se ‘blaf-taal’ te leer
ken. Wanneer blaf Killer vir ’n haas
of vir die maan, en wanneer blaf
Flaffie vir aanvallers op die perseel.
Die voordeel van goeie waghonde is
dat hulle batterye nie pap word nie.
Die vlaag vergiftigings is egter ’n
groot probleem in ons omgewing.
Baie mense hou nie van die idee dat
hulle honde in die huis slaap nie en
glo dat die honde buite moet wees
om die werf op te pas.
Wat is egter meer werd? Jou gesin
se veiligheid, of jou besittings?
Honde in ’n huis kan die inwoners
vinnig wakker maak wanneer aanvallers
toegang tot die woning probeer
verkry. Dit gee jou kans om jou
verdediging betyds reg te kry.
Leer jou hond. ’n Ongeleerde hond
is soos ’n gelaaide wapen in ’n kind
se hand. Leer jou honde om nie kos
van ander persone te neem of van
die grond af te vreet nie. Wees op
die uitkyk vir vreemde stukke kos op
die werf. Dit kan straks gif wees.
Statistiek bewys dat huisbraak of ’n
plaasaanval binne 14 dae nadat
honde vergiftig is, plaasvind. Kry so
gou as moontlik ’n ander hond, al is
dit ’n klein huis-hondjie.
Wees bedag op jou hond se gedrag
as jy in die aand huis toe kom. As jou
hond jou gewoonlik by die hek kom
groet en skielik afwesig is, moet jy
ekstra paraat wees. As jy enigsins
vermoed dat iemand op die perseel
is en jou inwag, moet jy nie ingaan
nie. Skakel die SAPD en wag op ’n
veilige plek.
Wanneer enige persoon jou erf
betree en hulle voordoen as Eskomof
Telkom-werkers of selfs as die
SAPD, moet jy aandring op identifikasie.
As so ’n persoon nie ’n identiteitskaart
kan toon nie, moet jy
hom onder geen omstandighede
inlaat nie, al beweer hy dat hy ’n lid
van die SAPD is. Moenie dat persone
jou intimideer om toegang tot
die woning te verkry nie. Skakel eers
en bevestig dat die persone wel is
wie hulle sê hulle is.
Wees bedag op ongemerkte voertuie
met blou ligte wat jou van die
pad probeer aftrek. Misdadigers
verkry blou ligte en doen hulle voor
as lede van polisie-eenhede en trek
dan motoriste af en beroof hulle. As
jy twyfel, deel die persoon mee dat
jy tot by die naaste polisiestasie sal
ry en daar stilhou. Ware polisielede
sal geen probleme daarmee hê nie.
As jy vermoed dat alles nie pluis is
nie, skakel 112 en vra vir bystand
van die SAPD. Bly op die foon met
die omroeper totdat ’n gemerkte
SAPD voertuig by jou is.
In geval van nood, skakel 10111 of
SAPS Boschkop by 012-802-1087 of
082-557-6996. |