Min sou kon raai heuningdief is só taai Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 15 November 2021 13:43
Untitled Document

Daar is nog ratels in die Bronberg-gebied. Tim van Stormbroek, ’n byeboer van plot 347, Tierpoort, het ratel se kind so rondom elfuur op Vrydagaand 29 Oktober op ’n waarnemingskamera vasgevang.

Tim vertel dat hy die afgelope ruk agtergekom het iets stamp sy byekorwe in die nag om en verwyder dan ewe slim die rame om die heuning te vreet. Hy het vermoed dat dit ’n ratel (wat ewe gepas in Engels “honey badger” genoem word) kan wees en het op 27 Oktober ou laaiplanke bo-op die byekorwe gepak.


Die ratel bo-op die byekorf
Foto’s: Tim van Stormbroek: Waarnemingskamera

“Wat dit ook al was, het aanhou teruggaan na dieselfde arme korf en ek het dié korf bo-op laaiplanke gesit en daaraan vasgebind,” sê Tim. Hy het besluit om ’n waarnemingskamera op dié byekorf te mik en die Saterdagoggend het Tim beeldmateriaal van ’n ratel gekry wat die korf ewe vernuftig oopgemaak het.

Ratels vreet nie net heuning nie. Hulle is karnivore wat ook die larwes van bye vreet, sowel as erdwurms, termiete, skerpioene, ystervarke, konyne, skilpaaie, klein krokodille en slange.


Hy kyk hoe die korf vasgemaak is

“Dit is goed om te weet dat dié roofdiere steeds in ons omgewing lewe,” sê Tim, wat nou ander planne gaan beraam om sy korwe en die ratel ook, veilig te hou. Dit kan sekerlik nie maklik wees nie – die ‘Guinness Book of World Records’ lui dat ratels die vreeslooste diere ter wêreld is en maklik groter roofdiere, soos leeus, sal aanvat.

’n Ratel se vel is 6 mm dik en redelik los, wat dié dier help om uit ’n roofdier se greep te wriemel en selfs om te draai om terug te byt. Die woord ‘ratel’ kom van die harde ratel-geluid wat dié diere maak as hulle dreig om te baklei. In plaas daarvan om weg te hardloop, sal hy kliphard ‘ratel’ en reguit op sy aanvaller afstorm.


Die ratel begin die korf afstamp

Volgens Wikipedia is ratels ook immuun teen adders en ’n aantal ander slange se gif. Wanneer hy in ’n geveg met ’n slang gebyt word, slaan die gif hom uit, maar hy herwin sy bewussyn na sowat twee ure. Geen wonder die gesegde lui dat iemand “so taai soos ’n ratel” is nie.

Die ratel, Mellivora capensis, is ’n lid van die Mustelidae-familie, wat ook die stinkmuishond insluit en ratels kan self goed lostrek met ’n baie onaangename skerp reuk as hulle bedreig word.


Hy haal vir hom ’n raam uit die korf

Ratels is dag- en nagdiere, maar word baie selde raakgesien. Hulle word uitgeken aan hulle treffende kleure: pikswart met ’n grys mantel en ’n wit streep wat van die kop tot die stertbasis loop.

Ratels het ’n kop-en-liggaamslengte van ongeveer 60 tot 102 cm, en ’n stert van 16 tot 30 cm. Die skouerhoogte is 23 tot 30 cm. Mannetjies is aansienlik groter as die wyfies en kan tot twee keer so veel weeg. ’n Wyfie kan tussen 5,5 en 10 kg weeg, terwyl mannetjies tussen 9 en 15 kg kan weeg.


Dis amper asof hy ewe selfvoldaan vir die kamera kyk

Ratels is enkellopend en die mannetjies help glad nie om die kleintjies groot te maak nie. Hulle het nie ’n permanente den nie, maar beweeg in hulle gebied rond en slaap elke aand in ’n ander gat, wat hulle gewoonlik self grou.

Die wyfie is ses maande dragtig, waarna twee tot vier kleintjies blind en heeltemal afhanklik gebore word. Dié kleintjies bly vir 14 maande by die wyfie. Ratels kan tot 24 jaar oud word.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger