Legendariese Neville sterf toe vliegtuig val Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 15 November 2021 13:42
Untitled Document

Neville Ferreira, ’n legende in die wêreld van akrobatiese vliegvertonings, is op 28 Oktober oorlede toe sy ligte vliegtuig op Tierpoort, net anderkant Kitty Hawk Luglandgoed, neergestort het.

Woordvoerder van Emer-G-Med sê dat paramedici net ná 2 nm na die toneel naby die Boschkoppad ontbied is. Neville was alleen aan boord en het ernstige beserings opgedoen. Hy is op die toneel dood verklaar.


Neville Ferreira
Foto’s: Verskaf

Trix van den Berg van die Mooiplaats, Zwavelpoort, Tierpoort (MZT) Gemeenskapsgroep sê dat ’n inwoner van plot 220 Tierpoort haar gebel het om te sê dat sy ’n snaakse geluid en ’n harde slag gehoor het.

Dawie Pretorius, lughawebestuurder van die nabygeleë Kitty Hawk, was een van die MZT-gemeenskapslede wat op dié noodroep reageer het. Trix sê dat dit ’n grusame vliegongeluk was. “Van ons gemeenskap wat reageer het, sê hulle het nog nooit so iets gesien nie. My hart gaan uit aan sy familie en vriende. Ook aan almal wat dit gesien het,” sê Trix.


’n Polisiehelikopter op die toneel

Die polisie het die toneel afgekamp om ’n ondersoek van stapel te stuur. Die voorval word deur die Burgerlugvaartowerheid ondersoek.

Neville is beskryf as een van dié top kunsvlieëniers in die land. Hy het Suid-Afrika verskeie kere by die Wêreld Kampioenskappe verteenwoordig en was nie net ’n bekende by Suid-Afrikaanse lugskoue nie maar ook in Europa. Hy was die fabriek vertoon-vlieënier vir Genpro.


Paramedici op die toneel

Mede-vlieëniers en vriende het hulle skok oor die ongeluk op Kitty Hawk se Facebook-blad verwoord.

Chris Visagie het gesê “. . . wys die engele hoe om te vlieg soos net jy kan. Jy het gegaan terwyl jy gedoen het waarvoor jy lief was . . .”

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger