Verkeerde keuses by O? Galito PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 21 September 2009 14:34
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

Wysgere en filosowe het dit deur die eeue heen uitgewerk dat ’n ou se lewensgeluk en sy suksesse of mislukkings afhang van die keuses wat hy maak. Die waarheid van dié wysheid het my weer soos ’n visklap getref toe ons op ’n onlangse Sondag afsit Woodlands toe om Portugees te loop eet by O’ Galito.

Met die aantog al het my mond begin water by die blote gedagte aan viskos soos die Portugese hom kan maak. Maar om die een of ander rede het ek uiteindelik doelbewus die verkeerde besluit geneem en dit later berou.

Metgesel het, aan die ander kant, die oënskoulik regte besluit geneem, maar dit toe veral berou. Dis besig op ’n maandeinde se Sondag by O’Galito in die Woodlands Boulevard. Dis trouens sommer baie besig by die koopsentrum.


O? Galito in die oopte van Woodlands Boulevard

Ons kry ’n tafeltjie op die rookstoep en vergaap ons aan die kleurryke ‘passing parade’ in die geplaveide oopte hier neffens ons. Die atmosfeer is nogtans ontspanne en die diens is flink. Die spyskaart vertel ’n belowende verhaal van ’n groot verskeidenheid viskos – soos dit hoort by ’n Portugese plek.

Eintlik is daar ’n groot verskeidenheid van omtrent alles denkbaar op die spyskaart uitgestal.

Op die oog af lyk die pryse effe styf, maar soos altyd die geval oral is, is die Portugese sardiens ’n ‘bargain’ teen R58. Pleks ek toe by my instink gehou het en die sardiens bestel het, maar nee, ek besluit ek wil iets ‘anders’ beproef.

Ek bestel die haas (rabbit casserole) teen R125. Laas in my kinderdae het my oorle ouma Anne vir ons op ’n dag ’n haaspastei voorgesit en ek onthou hoe lekker dit vir my toe was. En ek weet die Portugese vrek oor haasvleis (seker eintlik konyn) en ek wou weet hoekom. Ek weet nou veral nie.

Ek kon natuurlik eerder die groot porsie oxtail bestel het teen R128, of ’n T-been van 700 g, of fillet van 300 g teen R120. ’n Kilogram varkribbetjies kos R155 en ’n steak van volstruis R120. Jy kan ‘one-bite-burgers’ kies teen drie vir R33, ses vir R55 of nege vir R75.


Die verkeerde keuses vir ons

Die ‘light lunches’ kos almal minder as R60 en ‘wraps’ en Prego’s sal jou tussen R40 en R64 uit die sak jaag. En natuurlik, soos die naam aandui, is hoender en peri-peri-hoender ‘groot’ by O’ Galito.

Maar eers terug na Metgesel se ongelukkige keuse. O’ Galito bied jou ’n keuse van elke beskrywing wat nog aan ’n garnaal (prawn) toegedig is. Dis ‘queens’ en ‘kings’ en ‘tigers’ en ‘giant tigers’ van uiteenlopende oorsprong en aard.

Daarbenewens kan jy verskeie geregte van ‘langoustine’ of ‘lobster’, krap, agt soorte kabeljoudisse, ’n aantal ander wat hulle net as ‘fish’ identifiseer, of ’n kombinasie van ‘platters’ bestel. Sou jy wou, kan jy ook uit ’n kombinasie van 80 sushidisse kies. Metgesel kies die ‘prawn curry.’ Fout.

Die ‘prawns’ wat mense by die buurtafeltjies om ons bestel het, verdien sekerlik hulle koninklike betittelings van ‘queen’ en ‘king’ en regs van ons smul ’n ou aan garnale wat gepas beskryf kan word as ‘giant tigers’. Maar die dosyn agsiestog- stertjies van garnaal wat in Metgesel se ‘prawn curry’ aankom, sou maklik die naam ‘hofdwergie’ kon dra. As dit nie ‘shrimps’ is nie, dan is dit sweerlik iets onwettigs, dink ek. Metgesel is nie een wat sommer kla nie. Sy sê die twee hompies rys en sousige, geel, kerrie smaak vorentoe.

Maar sy is teleurgesteld. Dit voel vir haar, sê Metgesel, of sy verneuk is. Dalk as hulle die siestogstertjies aan die siestog-koppies gelos het, sou dit darem die skyn van ’n maaltyd gegee het. Maar teen R110 verwag sy werklik ’n ietsie meer.

My verkeerde keuse laat geen ruimte vir klagte oor die substansie van die gereg oop nie. Dit is ’n goeie hoeveelheid haas met goeie kraakgroente daarby. Ek aanvaar verantwoordelikheid vir my besluit en ek aanvaar dat aanhangers van haasvleis sou dink die smaaklose, droë witvleisie proe soos hy moet. As dit nie vir die lekker langsous van tamatie en knoffel was nie, sou ek meer as net die helfte van die spulletjie vir my hondjies gevat het. Hulle het dit geniet.

Jy kan lekker kuier by O’Galito op ’n Sondag en seker op enige ander dag ook. Jy moet net die regte keuses maak. Die rooiwyn-per-glas kos terloops R25.

 

© 2019 Die/The Bronberger