Die slangseisoen is hier en al hoe meer inwoners van die gebied vertel dat slange op hulle dorpserwe te siene is.
Louise Steyn van Oaklaan in Cullinan het op 6 Oktober ’n nagadder in ’n emmer gevang en die dorp se slangvangers het dié outjie gaan haal om elders vry te laat.
Die nagadder, Causus rhombeatus, is gewoonlik so 60 cm lank. Hy jag snags en vreet veral paddas en brulpaddas. Hy het groot gifkliere vergeleke met ander slange van dieselfde grootte, maar is nie besonder giftig nie. Die gif veroorsaak swelling, minimale nekrose en pyn, maar die simptome verdwyn gewoonlik na twee tot drie dae.
Dieselfde dag het Heleen De Waal van Hospitaalstraat berig dat twee van haar honde pas ’n wipneuskobra aangeval het. Die honde het sy maag oopgeskeur en die slang moes van kant gemaak word, terwyl die een hond gepik is en klaar gelyk het of hy dit nie gaan maak nie.
Die nagadder wat Louise in ’n emmer gevang het
Foto: Louise Steyn
Heleen vertel dat hulle teen die rantjie in Hospitaaldorp woon en dat daar baie slange is. Sy sê dat honde nie ’n wipneuskobra se byt oorleef nie en dat dit al hulle derde hond is wat deur een gepik is.
Die wipneuskobra, Naja annulifera, is gewoonlik 1,2 tot 1,9 meter lank, maar slange van 2,6 m is al opgemerk. Dié geweldig gevaarlike slang het bande oor die hele liggaam en is gelerig, bruinerig, gryserig, blou en swart.
Plaaslike slangvangers Bernard Prinsloo, Jaen Thomson en Willie Britz het laat weet dat mense hulle gerus kan kontak om probleem-slange te verwyder. Hulle is by die Africa Snakebite Institute en Gauteng-natuurbewaring geregistreer.
Besoek www.africansnakebiteinstitute.com of bel Bernard by 082-556-9901, Jaen by 068-559-4516 of Willie by 082-870-6494. |