Sewe minder bekende feite oor Bronbergse bome uit ons sewende jaar PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 21 September 2009 14:30
Untitled Document

Het jy al gehoor van ‘n boom wat krygers braaf maak? Of wat van die een wie se blare as narkotiese middel gerook word, ‘n boom wat fonteine kan red of die een wie se wortels sal verhoed dat jou hare grys word? In dié oorsig in boomplantmaand deel ons sewe minder bekende feite oor bome wat in ons sewende jaar die lig gesien het. Dalk kan dit help met jou besluit oor watter bome om vanjaar te plant.


Saliehout kan fonteine red


In November 2008 berig ons dat die saliehout ’n boom is wat fonteine van uitdroging kan red. Sy reddingsaksie het te doen met sy wortelstelsel. ’n Fontein wat besig is om op te droog kan dikwels gered kan word as die regte soort plante in en om die spons-gebied of die oog van die fontein geplant word. Saliehout is ideaal vir dié doel omdat sy fyn, maar aggressiewe wortelstelsel help om die fontein te stabiliseer. Sy wortels kan selfs in vloeiende water groei en hy is ook ’n waardevolle boom om walle rondom damme, strome, riviere en spruite te stabiliseer.

Hy maak krygers braaf


Kenia se Masaikrygers gebruik aftreksels van die doppruim se bas om hul braaf te maak, as ’n prikkelaar en bloedversterkende tonikum, vertel ons in Desember 2008. Die Voortrekkers het dié boom se saadolie gebruik om hul gewere mee te olie. Die olie is tradisioneel gebruik om seep te maak, as ’n lakseermiddel, ’n opknapper vir hare en as geneesmiddel vir omlope. Dié boom kan verhoed dat jy bles word, kan neuse laat ophou bloei, help vir borskwale, ooginfeksies, geslagsiektes en dien as purgeermiddel vir vee. Hulle sê selfs dat dié boom se blare slakke effektief doodmaak

Mak aap laat hom groei


Of jy nou lus is vir ’n bos-melkskommel, tuisgemaakte bier of ’n wondermiddel soek wat sal verhoed dat jou hare grys word, kan jy jou wend tot die kruisbessie, vertel ons in Maart. En as dié voordele vir jou so goed klink dat jy een in jou tuin wil plant, sal dit goed wees om ’n mak aap of bobbejaan byderhand te hou. Kruisbessiesade wat deur die binnegoed van ape en bobbejane gegaan het, ontkiem baie vinniger. Dit is blykbaar omdat die sade se chemiese stuitstof dan reeds afgebreek is deur die dier se maagsappe.

Hy is maagpyn se moses


As jy erge maagpyn het, moet jy maar hoop dat daar ’n kleinperdepram iewers naby jou groei, vertel ons in Mei. Blykbaar is die gegeurde tee wat van dié boom se blare gemaak word, die kontreimedisyne wat jou maagpyn die vinnigste sal laat verdwyn. Sy gekneusde sade word tradisioneel as parfuum gebruik. Stokkies wat van die boom afgebreek word, word gebruik as tandeborsels, en ’n tandepasta en mondspoelmiddel, wat bakteriese groei verhoed en plaak verwyder, word ook van dié boom gemaak.

Dié twak maak mooi


Wie sou nou kon raai dat iets wat in die volksmond bekend gestaan het as boesmantabak, bekend vir ’n narkotiese effek op die roker daarvan, vandag gesog sou wees in die kosmetiese bedryf? In Junie verduidelik ons dat dié volksnaam tot stand gekom het toe Kalahari-boere agterkom dat die Boesmans kanferbosblare rook. Vandag kan ’n mens gedroogde boesmantabak op bykans enige webwerf wat tradisionele medisyne adverteer, aankoop. En waar daar ’n rokie is, is daar iewers ’n vuurtjie. Kanferbos produkte vat nou eers regtig vlam, al word dit al vir eeue lank ingespan om ’n groot verskeidenheid take te verrig, van kosmeties tot die behandeling van ernstige siektes.

Moreleta dra sý naam


Legendes oor die ontstaan van die Moreletaspruit se naam loop ver en wyd. In Julie vertel ons dat dié naam ’n aanpassing is van die woord “Moretele’ wat die Tswana woord ‘moreeko’, ‘morethlwa’ of ‘moretlwa’ vir die wilderosyntjie is. Die wilderosyntjie is ’n struik of klein boompie met geel blomme en eetbare vrugte. Die Tswanas het pap gemaak van sy gedroogde, verpoeierde vrugte. Die fyngestampte vrugte gemeng met sprinkane, was ’n Tswana lekkerny. Hulle het ook ’n sterk alkoholiese brousel van die bessies gemaak, vandaar die volksnaam ‘brandewynbessie’ vir dié struik

Dié witgat gee lewe


Ons het hom tradisioneel leer ken as die Voortrekkers se koffieboom, maar in droë gebiede van ons land word hy die ‘Boom van die Lewe’ genoem omdat hy voeding bied aan mens en dier, berig ons in Augustus. Of jy nou koffie, bier of pap wil maak, kos wil geur of op soek is na ’n voedselbron hoog in proteïene en vitamien A, is die witgat jou antwoord. Ons praat nou van ’n boom, maar waar hy dié gat-gedeelte van die naam gekry het, wou niemand sê nie. Die witgat se wortels word ook fyngemaal om aambeie te behandel. Wie weet, dalk is dit waar sy naam vandaan kom.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger