Veldbrand vernietig die kliphuis wat Koos gebou het Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 17 September 2021 07:36
Untitled Document
Die Bronnie het in November 2002 die eerste keer met Koos Reyneke gepraat. Hy het destyds die roete van die ou wapad uit die 1800’s, wat deur ons gebied loop, aan ons uitgewys en vertel oor die stigting van Wapadrand. Koos het ook vertel dat dié wapad op die plaas Kleinfontein, wat hy eens besit het, ’n vurk gemaak het waar reisigers afgesaal en oornag het. Dwarsdeur die Bronnie se 19 bestaansjare het Koos vele brokkies inligting oor geskiedenis en die natuur met ons gedeel.

Koos Reyneke

In April 1983 het ek Kleinfontein gekoop by tannie Kitty (voorheen getroud met Koos Botha, kleinseun van Adolf Botha, wie se eerste huis die Pioniershuis in Silverton was) en Oom Jimmy Robinson.

Ek het dadelik begin droom van huisbou op die kranse naby die sterkste bergfonteine en ook om ’n dam daar in die kloof te bou, waar die Slag van Donkerhoek (Battle of Diamond Hill) in Junie 1900 plaasgevind het.


Koos Reyneke

Desember 1987 was my geldjies op en kon ons nie met die bouersvakansie eers gaan vakansie hou nie. Ek het daarom maar self klippe in die berg op my bakkie gelaai en die laaste twee meter van die klipkaggel se skoorsteen gebou, insluitende die heel boonste sluitklip. Die fonteindam was darem twee jaar tevore reeds mooi vol.

Ongeveer ses maande later het ek vir oom Wally Grant plaas toe gevat, omdat ek gesien en gehoor het hoe naarstiglik oom Carel Boshof en ander Afrikaner Volkswag-mense gesoek het na ’n plek om die 150ste herdenking van die Groot Trek te vier.


Die kliphuis in ligte laaie

Met al die voorbereidings wat ek vir die verwagte 30 000 mense op Kleinfontein moes doen, moes ek vir ses maande die voltooiing van my huis los en eers die belangrikste vir die Volksfees doen.

Die verhoogmuur het ek nog die laaste week gebou en die middag van 15 Desember het ek die plat klip, wat as kateder vir die toesprake sou dien, self op nat dagha vasgedruk.


Die skoorsteen en klipmure staan darem nog

Nadat Kleinfontein in ’n koöperasie omskep is, het my broer en ek ons laaste 25% minderheidsaandeel in Kleinfontein verkoop. Nogtans het ek Kleinfontein gereeld besoek, Geloftefeeste daar bygewoon, selfs daar toespraak gaan hou en die gedenknaald ontwerp en help oprig.

Vanmiddag stuur Ricus van FN vir my hierdie ontstellende foto van my eie handewerk in ligte laaie, ná ’n veldbrand gepaard met ’n sterk westewind. [Die huis het op 18 Augustus afgebrand.] Ek kan nie nou veel verder skryf nie . . . al het ek persoonlik geen geldelike belang meer in die huis gehad nie.

“Alles aardse dinge,” sou my wyse pa gesê het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger