Nonna sorg vir oorverdowende stilte Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 20 August 2021 10:37
Untitled Document

Hy en sy vrou was nou die ander aand op pad uit vir ’n restaurant-kuiertjie om die nuwe vryheid van Covid vlak drie behoorlik te loop vier, vertel ou Ben Engelbrecht. Hulle bel toe ’n Uber sodat hulle albei darem die aand kon geniet met ’n glasie of hoeveel sonder om die gevaar van ongeluk of misdaadrekord te waag.

Hulle was net besig om vir Nonna, hulle boerboel, in die agtertuin toe te maak, toe die Uber-kar voor die huis stilhou, sê Ben.

Met dié wat hulle aandag vir ’n breukdeel van ’n sekonde weg was, skiet Nonna verby hulle terug die huis binne. En binne kan hulle nie vir Nonna los terwyl hulle uit is nie, want sy vreet alles op en skeur alles waarin sy haar aansienlike stel tande kan slaan stukkend as hulle dit durf waag om haar alleen in die huis te los. Boonop wys sy haar misnoeë verder deur oral waar sy nie moet nie, te dinges of te ander dinges.

Ben sê sy vrou bied toe aan om vir Nonna uit die huis uit na die agtertuin toe te verskuif terwyl hy so lank voor in die Uber-kar saam met die Uber-man wag, want nou-nou ry die ou weg as hulle te lank met Nonna sukkel.

Nou is hulle al in die verlede beroof en Ben sê hy wou nie hê die Uber-bestuurder moet weet daar gaan niemand by die huis wees nie. Kan ook niemand meer vertrou nie . . . Ben sê toe vir die bestuurder sy vrou sal nou by hulle aansluit, sy groet net gou Ben se ma.

’n Hele paar minute later klim sy vrou duidelik omgekrap, natgesweet en hygend in die kar in.

Net toe die Uber begin ry, haak Ben se vrou driftig af:

“Sy het onder die bed weggekruip en ek moes haar agterent behoorlik met ’n hanger wiks voor ek haar aan die voet daar kon uitsleep. Sy wou weghol om seker weer op ’n ander plek te gaan wegkruip, só toe gryp ek haar aan die nek en sleep haar dikgat tot in die agtertuin. Ek hoop net sy bevark nie weer die groentetuin soos laas nie, anders is die duiwel los as ons terugkom.”

Ben Engelbrecht sê die rondgeskokte oë waarmee die bestuurder hom in ongeloof aangekyk het, was iets uitsonderliks onaardig en die stilte in die Uber was die hele ent pad restaurant toe oorverdowend!

 

© 2024 Die/The Bronberger