Verkeerde naam kom uit 16de eeu Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 20 August 2021 10:32
Untitled Document

Die kinaboom het sy naam gekry omdat ’n mediese dokter uit die 16de eeu, wat ’n versamelaar van medisinale plante was, geglo het dat sy bitter bas soos kinien optree en teen malaria gebruik kan word.

Die boom se wetenskaplike naam, Rauvolfia caffra, verwys na dié dokter – Leonhart Rauwolf van Augsburg. Die naam caffra verwys na Kaffraria, wat nou as die Oos-Kaap bekend staan. In Engels staan hy as ‘quinine tree’ bekend en hy het dié naam behou al is daar later gevind dat sy bas ondoeltreffend in die behandeling van malaria is.


Blare en vrugte
Foto: Wikipedia

Vandag weet ons dat sy wortelbas reserpien bevat, wat as kalmeermiddel gebruik word en ook teen hoë bloeddruk. Sy bas word gebruik om wonde te verbind en ’n aftreksel daarvan om maaiers in wonde dood te maak. Dele van die bas word ook gekou om hoes te behandel. Die melksap word gebruik om diarree en ander maagongesteldhede te behandel.


Die hoofstam is reguit en die growwe bas is grys tot bruin
Foto: Wikipedia

Tromme word van sy hout gemaak, wat ook ideaal is vir kombuismeubels en rakke. Sy blare, blomme en vrugte word deur blouape gevreet en sy blomme het ’n soet geur wat skoenlappers en ander insekte lok, wat dan ook insekvretende voëls lok.

Die boom word tot 30 meter hoog en het ’n ronderige kroon. Die hoofstam is reguit en die growwe bas is grys tot bruin. Die blare word in kranse van drie tot vyf gedra en die blaarrande neig om met die blaarsteel saam te smelt.


Die kinaboom
Foto: kloofconservancy.org.za

Die blommetjies is omtrent 4 mm lank; wit en wasagtig met ’n soet geur. Die vlesige vrugte is glans-groen met wit spikkels en word swart en verrimpel wanneer hulle ryp is. Hulle word in pare of enkel gedra.

Die kinaboom kan maklik van saad gegroei word, plant goed oor en groei relatief vinnig teen ongeveer 1,5 meter ’n jaar.


Sy wit blommetjies
Foto: BT Wursten

Verwyder die vlees van die vrug, was met water en saai in saailingbakke gevul met ’n mengsel van riviersand en kompos. Die saailinge kan op die drie-blaar stadium oorgeplant word. Gee hulle genoeg water vir die eerste drie maande. Jong plante kan in vrugbare grond met baie kompos in klam areas oorgeplant word. Dié spesie hanteer koue nie baie goed nie en moet teen ryp beskerm word.

 

© 2024 Die/The Bronberger