Gemeenskap groet geliefde stasiebevelvoerder Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 20 August 2021 10:24
Untitled Document

Kolonel Sandy Scheltens, geliefde bevelvoerder van die Bronkhorstspruitse polisiestasie, het op
23 Julie haar stryd teen Covid verloor.

Die 59-jarige Sandy was vir bykans 40 jaar in die polisiediens en het verskeie poste as stasiebevelvoerder in verskillende streke beklee. Sy was Eersterus se bevelvoerder van 1996 tot 1997 en is in 1997 na Bronkhorstspruit verplaas, waar sy tot 2003 bevelvoerder was.

Van 2004 tot 2006 was sy bevelvoerder in die Kwa-Mhlanga streekskantoor, waarna sy na die Delmas-polisiestasie verplaas is en ’n paar jaar later het sy na Bronkhorstspruit terug gekeer.


Kollegas groet Sandy vir oulaas by ’n gedenkdiens
Foto: Noxolo Sibiya

Die Bronkhorstspruitse gemeenskap het op 28 Julie eer aan Sandy betoon deur ’n emosionele deur-ry gedenkdiens waar gemeenskapslede, kollegas, vriende en familie in eerbetoning blomme buite die polisiestasie geplaas het. Verskeie sekerheidsake, plaaslike motorwagte en eienaars van ondernemings het ook huldeblyke gelewer.

Sandy is beskryf as iemand wat altyd bereid was om te help, selfs wanneer sy nie aan diens was nie. Brooklyn se stasiebevelvoerder, Kushi Pietersen, het gesê dat Sandy ’n ongelooflike gees van selflose vrygewigheid gehad het. “Sy was ’n energieke leier wat altyd beskikbaar was. Haar verwelkomende aard het verseker dat enigiemand haar vir enigiets wat hulle benodig, of enige advies, kon nader.”


Die foto van Sandy wat by die gedenkdiens gebruik is
Foto: Verskaf

Kushi het gesê dat Sandy nie net vir beamptes in haar stasie beskikbaar was nie, maar vir die res van die distrik. “Haar heengaan het ’n leemte gelaat wat moeilik sal wees om te vul.”

Sandy is op 30 Julie in die Bronkhorstspruitse begraafplaas ter ruste gelê.

 

© 2025 Die/The Bronberger