’n Terugblik oor ons sewende jaar se toeka-stories PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 21 September 2009 14:17
Untitled Document

Met dié terugblik oor die ‘toekas’ wat in ons sewende jaar die lig gesien het, onthou ons weer verhale soos waar Pretoria se eerste kuierplek was, hoe die ou plaas Garstvontyn gelyk het, waar die Britse prins se vergete graf is waar dit glo spook, dat Rider Haggard se liefdeskind hier begrawe is, hoe Vincent Van Gogh se broer in die Anglo-Boere-oorlog selfmoord gepleeg het en hoekom die inwoners van Onverwacht hulself ‘swart Afrikaners’ noem.

Die plaas Garstvontyn

In September verlede jaar vertel ons dat boere lank voor Pretoria nog sy naam gekry het, op die plaas Garstvontyn gewoel en gewerskaf het. Die laaste landelike dele van die plaas is in die 2000’s in sekuriteitsontwikkelings soos Woodhill, Mooikloof Heights, Mooikloof View, Mooikloof Ridge, Mooikloof Manor, Mooikloof Gardens en The Wilds omskep. Minder as ’n dekade gelede het beeste egter nog rondgeloop op Wolfaardt Landgoed, ’n deel van die oorspronklike plaas Garstvontyn, waar Woodhill-gholflandgoed vandag is.

Eerste leidam herontdek


Die posisie van die heel eerste leidam in Pretoria is onlangs herontdek, berig ons in Oktober 2008. Gert Bronkhorst, een van die eerste Voortrekkers wat in die omgewing aangekom het, se dam en leivoor-waterstelsel is gevind deur erfenis- en restourasiekonsultant, Anton Jansen van die plot Belofte, Rietfontein. Hy het die plek van Gert Bronkhorst se damwal in die Apiesrivier gevind asook die pad wat die leivoor vanaf die dam na sy landerye toe geloop het. Die dam is wes van Unisa se hoofgebou en is vandag van beton. Aan die oos-oewer is daar nou traliewerk voor ’n waterpyp wat voorheen die leivoor was.

Vanuit die meester se koetshuis


In November 2008 vertel ons die verhaal van een van Pretoria se heel eerste skole. ’n Hollander met die naam van Wessel Louis het meer as 200 jaar gelede as skoolmeester in Pretoria aangekom en ‘kosgangers’ het in stalle in sy koetshuis tuisgegaan. Meester Louis se eerste leerlinge het gestrek van Groot Piet Grobler, ’n familielid van die Staatspresident, Cornelis Wielbach, later regsgeleerde, Dewalt Bodenstein, later professor, Jan Jurie Schoeman, later myningenieur, Mortimer Malherbe en Dowe Jan Celliers, later landmeter, tot ’n lid van die Nederlandse adelstand, jonkheer C Beelarts van Blokland.

Cullinan se eeu-oue rugbyklub


’n Ronde 100 jaar gelede is die eerste bal by die Cullinanse Rugbyklub afgeskop, berig ons in November 2008. Dié klub het in 1908 ontstaan onder die bestuur van ‘The Premier Mine Football Board’. Daar bestaan foto’s waarop die ‘Board and Cup Winners for the season 1908’ pryk. Van dié vyf spanne was twee sokkerspanne en drie rugbyspanne, naamlik die ‘Country Cup Rugby Union Football’ span, die ‘Jameson Cup, Mechanics Rugby Football Club’ span en die ‘Wagner Cup, The Buccaneers Rugby Football Club’ se span.

Terugblik na Desember 1908


In Desember 2008 draai ons die knop ’n honderd jaar terug en kyk na Desember 1908, die jaar waarin die reuse Cullinan diamant gesny is, ’n interkoloniale konferensie in Pretoria gehou is, Onderstepoort Veeartseny Instituut en TUK, voorloper van die Universiteit van Pretoria, gestig is. Ons kyk hoe poskaarte, Kerskaartjies, Nuwejaarskaartjies en Kerspersente vir kinders daardie jaar gelyk het. Op dié publisiteitsfoto oorhandig mynoppervlakbestuurder Fred Wells, regs, die Cullinandiamant aan McHardy wat dit dan terug gee aan Thomas Cullinan, links.

Eergister se Januaries


In Januarie berig ons dat verslanking nie net deesdae ’n Januarie-tema ná Krismis se grooteet is nie. Dit was al so in Januarie 1956 toe ‘Lantern’ ’n hele 16 bladsye aan ’n verslankingafdeling afgestaan het. Ons het terug gekyk na ander Januarie-onderwerpe in ‘Panorama’ en ‘Lantern’ en het agtergekom hoe goedkoop vakansies in ons land tot so onlangs as 1988 nog was; hoe presidentsvroue se voorname nie belangrik was in 1977 nie; hoeveel geregistreerde kiesers ja gestem het in 1983 en wat die voorspellings oor Afrikaanse musiek in 1987 was.

Sebras ingespan


’n Poskoets is mos iets wat deur perde getrek word. Verbeel jou nou wat Pretorianers van die laat 1800’s se reaksie was toe die bekende Zeederberg poskoets een mooi dag agter ’n span sebras op Kerkplein opdaag. In Februarie vertel ons in watter ongewone posisies sebras ingespan is in die verlede. Omdat hulle bestand is teen perdesiekte is hulle voor koetse en waens ingespan en die eerste dokter in Nairobi, Rosendo Ribeiro, het selfs huisbesoek op ’n sebra gedoen. Ons verduidelik ook watter sebra-kruisings ’n ‘zorse’, ‘hebra’, ‘zedonk’ en ‘zonkey’ genoem word.

Prins se graf lê vergete


In Maart vertel ons dat koningin Victoria se gunsteling kleinseun, prins Christian Victor, in ’n beskeie soldategraf in Pretoria se Kerkstraat-begraafplaas begrawe is in 1900. Dié 33-jarige prins is in Pretoria aan ingewandskoors dood nadat hy deur malaria platgetrek is. Sy liggaam is gebalsem en alle reëlings is getref om dit na Engeland te verskeep toe ’n telegram van sy ouma, koningin Victoria, aankom met die bevel dat haar kleinseun in Pretoria in ’n gewone soldategraf begrawe moet word. Vandag spook dit glo by dié graf. Die foto wys hoe die prins se begrafnisstoet met Kerkstraat afbeweeg.

Nuwe foto’s van prins se sterfte


In April het ons nuwe foto’s van dié vergete Britse prins se sterfte in die hande gekry. Die foto’s het gewys hoe Prins Christian Victor se kis, die tent waarin die kis in staatsie gelê het, die prins se sterfkamer en die prins se graf voor die grafsteen opgerig is, gelyk het.

Sy liefdeskind lê hier


Generasies skoolkinders het Henry Rider Haggard leer ken as avontuurskrywer van boeke soos ‘King Solomon’s mines’ en ‘She’. Ander ken hom uit die geskiedenisboeke as Britse koloniale amptenaar en landbouhervormer. ’n Minder bekende feit is dat Henry, toe hy in die 1870’s Pretoria toe gekom het, ’n buite-egtelike baba-dogtertjie in Kerkstraat se begraafplaas agtergelaat het. In April het ons die tragiese verloop van dié skrywer se liefdeslewe vertel.

Pretoria se eerste kuierplek


Dié Thomas Baines skildery van Albert Brodrick se winkel en kuierplek op Kerkplein is blykbaar in die mid-1880’s gemaak in ruil vir Baines se kruidenierskuld. In Mei vertel ons die storie van die kroeg, Gaiety Bar, waar President Paul Kruger se seuns bekende gesigte was. Hulle het so lekker daar gekuier dat Paul Kruger in die Volksraad moes verskoning vra vir sy seuns wat so dikwels onder die invloed was. As straf het hy hulle vir twaalf maande na sy plaas, Boekenhoutfontein verban.

Van Gogh-broer pleeg hier selfmoord


Dat Vincent van Gogh se jongste broer, Cornelis, in die Anglo-Boere-oorlog aan die Boere se kant geveg het, is iets wat min mense weet. Dat hy in dié oorlog gesterf het, is iets wat jy op ’n gedenkbord in Pretoria, waar hy gewoon het, kan gaan raaklees. Maar dat hy, nes sy beroemde broer, selfmoord gepleeg het, is iets wat die amptelike verslae van daardie tyd eers nie bekend wou maak nie. In Junie verklap ons al die geheime agter Cor se selfmoord in Suid-Afrika.

Boschkop se plaasbegraafplasies


In Junie ‘vlieg’ ons oor Boschkop se plaasbegraafplasies met die hulp van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) se ‘Google Earth’ projek. Drie begraafplasies word aangedui vir Boschkop, maar net twee van hulle het ’n skakel na foto albums op GGSA se webwerf. By Boschkop 369 (1) strek grafte van 1922 tot 1975. Die vanne wat op die grafstene verskyn sluit Paulsen, Potgieter, Terblanche, Viljoen en Wolmarans in. By Boschkop 369 (2) strek grafte van 1911 tot 1997 met vanne soos Grobler, Jones, Joubert, Liebenberg, Janse van Rensburg en Smit.

Onverwacht se swart Afrikaners


’n Groep mense wat hulself swart Afrikaners noem, woon nou al vir langer as ’n honderd jaar op grond wat Paul Kruger aan hulle toegestaan het, berig ons in Julie. Onverwacht is tien kilometer noord-oos van Cullinan en die Onverwachters is afstammelinge van bevryde Maleise slawe, wat intussen ondertrou het met lede van die Pedi-stam, wat saam met die Malan nátrek in 1857 hier aangekom het. Met die Vryheidsoorloë het die nátrekkers saam met die Boere geveg en Paul Kruger het hulle belowe dat hy vir hulle grond sou gee as die Boere wen. Die Boere het verloor, maar die nátrekkers het steeds hul grond gekry.

Redakteurs se dieretuin-wortels


In Augustus vertel ons dat twee redakteurs van ‘De Volkstem’ se wortels terug getrek kan word na Pretoria se dieretuin. Die een is op die terrein gebore en die ander een het daar gewoon. Ons praat van Johannes Francois Celliers, stigter van die Pretoriase ‘De Volkstem’ en van Gustav Preller, ’n latere redakteur van dié koerant wat saam met sy vrou Hannie op die foto pryk. Die plaas Klein Schoemansdal is herdoop na ‘Rus in Urbe’ en is in 1895 deur die Republikeinse Regering aangekoop om ’n dieretuin te begin. Dit was eers in 1899 dat daar diere na die dieretuin toe geskuif is.

Donkerhoek en Kleinfontein se grafte


Ons ‘vlieg’ oor Donkerhoek en Kleinfontein se plaasbegraafplasies in Augustus. Met die hulp van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) se ‘Google Earth’ projek vind ons dat daar vyf plaasbegraafplasies op die plaas Donkerhoek 365 en vyf op die plaas Kleinfontein 368 is. Ons bekyk die begraafplasie op die plaas Tandum, Kleinfontein met sy Botha grafstene, en Donkerhoek se begraafplaas nommer drie op plot 51 met sy 17 grafstene.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger