Mens en dier loop deur onder Zwavelpoort se geveerde skop-bokser Print E-mail
News - Artikels
Monday, 21 September 2009 16:12
Untitled Document

In Zwavelpoort woon daar ’n haan wat uit sy pad uit gaan om mense te skop. Sy skoppery stop ook nie net by mense nie – honde, perde en selfs kardeure loop deur.

Die enigste dier waarvoor hy respek het, is die werf se kwaai gansmannetjie. Staan terug Molly, Mooiplaats se wilde wagkoei; hier is ’n haan wat enige dag ’n koei sal aanvat. Verlede maand het ons berig dat mense wye draaie om Molly loop.


As di haan sy nekvere begin pof, beteken dit hy maak gereed om te skop

Dié maand ontmoet ons ’n agterbakse Potchefstroomse Koekoekhaan wat net wag vir die oomblik dat ’n mens jou rug op hom draai. Dis sy teken om so vinnig as hy kan nader te hardloop, in die lug op te spring en jou van agter af te skop. Na die tyd sit hy jou reaksie en dophou met sy bose rooi oog. Doen jy niks terug aan hom nie, gooi hy sy kop agteroor en kraai koning.

’n Veearts wat in een besoek ongeveer ses keer aangerand is deur dié haan, sê dat hy op ’n plaas grootgeword het, maar nog nooit so iets gesien het nie. Kalkoene, ja. Hulle kan jou dalk sommer net aanval, maar ’n haan raak gewoonlik bloot aggressief as jy naby sy henne kom.

Dié veearts het vertel dat ’n mens so ’n kalkoen ’n goeie pakslae moet gee. As hy eers weet wie’s baas, sal hy versigtiger wees. Die veearts se teenaanval het die haan egter net gemotiveer om hoër en meer aanhoudend te skop.


Met ?n woeste gewaai van vlerke, spring hy in die lug op om te skop

Waar kan dié aggressie vandaan kom? Die geskiedenis wys dat die rede waarom hoenders vandag plaasdiere is, meer met hanevegtery te doene het as met eiers of vleis.

Blykbaar is die eerste pluimvee-vereniging in die land eers in 1904 gevestig na die ontdekking dat eiergeel ’n goeie bron van vitamiene A en yster is en dat eierwit hoë-kwaliteit proteïene bevat. Die eerste hanevegtery is egter reeds in 1 000 BC aangeteken en dié sport was so gewild dat ’n toenemende hoeveelheid wilde voëls makgemaak is, veral in die Ooste.

Toe hanevegtery in die Weste ook begin gewild raak, is hoenders in groot getalle die wêreld vol verskeep. ’n Matroos of soldaat wat nie geskik was vir enige ander werk op skepe nie, is aangesê om die pluimvee te voer en, in die tyd van die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie, was sy titel altyd ‘Pluym-Graff van de hoener’.

Met sulke gene moet ’n hoenderhaan mos een of ander vorm van aggressie oorgehou het. Die Potchefstroomse Koekoek word erken as ’n plaaslik ontwikkelde hoender-ras en is die gevolg van kruising tussen ’n swart Australorp, ’n Australiese ras, en wit Leghorn, ’n Italiaanse ras. Dié kruising is toe vir oulaas met die gestreepte Plymouth Rock, ’n ras uit Amerika, gekruis. Die naam ‘koekoek’ beskryf die hoender se kleurpatroon eerder as ’n ras.


N so ?n skopslag, gooi hy sy kop terug en kraai behaaglik

Die Plymouth Rock is glad nie aggressief nie en word besonder maklik makgemaak. Ook die Australorp is bekend as ’n maklik hanteerbare hoender, en ’n opreggeteelde Leghorn is skaam en senuweeagtig en sal kontak met mense vermy. Dié Zwavelpoortse Koekoekhaan se aggressie moet dus te wyte aan een of ander resessiewe geen wees.

Lesers wat dalk ’n antwoord oor haan-aggressie het, is welkom om ons te kontak. As jy ’n plaasdier op jou werf het wat vreemdsoortig optree, soos dié Zwavelpoortse haan of Mooiplaats se Molly, is jy welkom om jou storie vir ons te stuur.

 

© 2020 Die/The Bronberger