Vir Marcella was die dood ?n mooi blou blom Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 21 September 2009 20:10
Untitled Document

Op Sondagmiddag 23 Augustus het Marcella, soos elke ander dag, met haar honde in Cullinan se koppies gaan stap. Hierdie keer het sy egter nie teruggekeer nie. Sy is aan ’n hartaanval oorlede.

Die bekende kunstenaar, Marcella de Boom, is in 1945 in Pretoria gebore. Sy studeer in 1962 in Ithaca, VSA, onder Norman Daly en aan UP van 1963 tot 1966 met Gunther van der Reis as mentor. Sy trou in 1967 en twee kinders, Rolf en Ilse, is uit die huwelik gebore. Marcella laat ook twee kleinkinders agter.

In die daaropvolgende 25 jaar hou sy verskeie eenvrou-uitstallings regdeur Suid-Afrika. In 1994 stal sy in Norden en in 1996 in Hanover, Duitsland uit. Sy het ook as genooide kunstenaar in Parys, Frankryk, gewoon en by die ‘Artelier des Arts’ geskilder. Marcella was die ewige student wat klasse in Sotho in Refilwe geneem het; sy kon teksboeke in Frans, Duits, Engels en Hollands lees en tot haar afsterwe was sy ’n student aan Unisa.


Marcella in haar kleihuis
Foto: art.co.za

Uitstal
In haar loopbaan het sy aan verskeie groepuitstallings deelgeneem. So ’n onlangse uitstalling is in 2005 by die Pretoriase Kunsvereniging gehou. In 2008 vind die stigting van die Cullinan Kunsvereniging met haar aansporing plaas. Die uitstalling is in Marcella se kunsgalery, Aldabran Studio, gehou wat deel vorm van die kleihuis waarin sy gewoon het. Marcella het dié huis en studio met haar eie hande uit klei en strooi gebou.

Haar laaste eenvrou-uitstalling is vanjaar ter ere van Vrouedag gehou. Hier het sy vir die eerste keer haar selfportrette, wat sy oor die jare opgebou en bewaar het en vanuit ’n spieëlbeeld gedoen het, uitgestal. Die uitstalling is beplan en uitgelê met die hulp van twee persone na aan haar: haar dogter, Ilse van Staden wat ook op Cullinan bly en in haar eie reg, as digter, ’n kunstenaar is, en ’n jarelange vriend en bondgenoot, Leo van Straten, ’n ou bekende in Cullinan en gewaardeerde kunstenaar en kunskenner wat nou in die Kaap woon.


Marcella se laaste uitstalling in Augustus: ?One woman one life?

Veelvuldig
Marcella het geglo dat ’n kunswerk op twee vlakke goed moet wees, in tegniek en inhoud. Sy het nie geglo in een algemene wêreld, een werklikheid wat vir almal geld nie. Haar skeppings is nie bloot dekoratief nie, maar het ’n sterk mitologiese inslag met droomgestaltes in uitbundige kleur. Kyk ons daarna is dit asof sy ons wil attent maak op die bestaan van ’n veelvuldigheid van wêrelde. Werklikhede verskil, want “ons sien net anders wanneer ons anders kyk”.

Die skildery van die drie ‘Gelukkige huisvrouens’ raak nie net die daaglikse sloer van die taak aan nie. Daar is ook ander wêrelde in verskuil: wanneer ‘Die gelukkige skottelgoedwasser’ die water tap om skottelgoed te was, tap sy uit ’n oseaan vol meerminne. “Die skilderye word brûe na ander wêrelde wat ons self óf te onbevoeg is om te bereik óf te bang,” het sy gesê.


Aldabran Studio, wat Marcella met haar eie hande gebou het
Foto: art.co.za

Siener
“Die kunstenaar het ’n dubbele funksie om haar eie wêreld aan ons bekend te stel, maar ook om wat ons sien vir ons te vertaal sodat ons saam met haar met ander oë kan kyk na wêrelde wat ons dink ons self ken. Sy is ‘Die Siener’ wat ander wêrelde kan waarneem en weergee.”

Marcella se werke is oorlaai met emosie wat die toeskouer forseer om aandagtig daarna te kyk om die volle inhoud te waardeer. Haar eerlikheid en opregtheid (vir haar kon ’n blaar sing), sowel as ’n magdom van kennis en besondere waarnemingsvermoë het bygedra tot die gehalte van haar kuns.


Ilse van Staden en Leo van Straten by Die Siener

Blom
Marcella de Boom het ‘Die dood as mooi blou blom’ voorgestel. Die afdruk van dié skildery en die gedig, ‘mooi blou blom’ wat deur Ilse geskryf is, is in die begrafnisbrief gebruik. ’n Uittreksel uit die gedig, stel die dood so voor: “die dood is ’n mooi blou blom / van onverwylde woordloosheid / die tong sterf dadelik af / en stilte land soos vlinders / op blou kelkblare”

Met dank aan Ilse en Leo.


?Die dood is ?n mooi blou blom?

 

 

 

© 2020 Die/The Bronberger