Klein-stukkie-braaihoender die oplossing Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 21 May 2021 03:13
Untitled Document

Sy neef Proppie is mos in die boubedryf, sê Gert Mossie. Proppie het hom loop vestig in een van die Laeveld se baie wildpark-landgoedere. En dis waar hy hom nou ’n hele paar jaar al besig hou met die bou van huise: In die wildpark, sê Gert Mossie.

Nou, die anderdag wanneer praat hy en sy neef kopstukke oor hoe dinge in die land verander het en dies meer, sê Gert. Neef Proppie wil toe weet of hy wat Gert is weet dat die stapelvoedsel onder ’n groot deel van die land se bevolking kwaai verander het.

Al die jare was dit mos maar mieliepap, sê Proppie, maar deesdae, lyk dit hom, is dit daardie klein-stukkie-braaihoender, wat onder die vaandel van die Amerikaanse kolonel van Kentucky verkoop word, wat die voedsel-stapel van keuse is.

Nou het hy sommer gou agtergekom, nadat hy in die wildpark begin huise bou het, dat dit baie moeilik is om bouplanne en verwante goed op die naaste dorpie by die plaaslike munisipaliteit goedgekeur te kry, sê Proppie.

Hy het al begin dink dit gaan nie die moeite werd wees om met sy bou-onderneming aldaar voort te gaan nie, toe hy ’n stukkie raad van onskatbare waarde kry by ’n gawe ou wat al lank in die omgewing woon. Klein-stukkie-braaihoender, het die gawe ou gesê. Jou oplossing lê in die kolonel se klein-stukkie-braaihoender.

Nou vertel neef Proppie dat hy toe die volgende dag munisipale kantore toe is om navraag oor sy bouplanne te doen met ’n allemintige emmer vol braaihoender in twee hande vasgehou en onder elke arm ’n groot bottel kola vasgeknyp.

Dié het hy toe so saam met sy navraag oor die bouplanne, oor die toonbank gestoot. Agter die toonbank was die administratiewe amptenare duidelik erg in hulle noppies oor die blyk van waardering in die emmer en gretig en behulpsaam met dié navraag.

Een het dadelik sy rekenaar aangesit en begin soek en ’n ander het na ’n liasseerkas gedraf en daarin begin krap en soek. Kom more weer, dan sal die goedkeuring van alles gereed wees, het een amptenaar gesê. En dit was toe net só, sê Proppie. Hy laai nog ‘n emmer hoenderstukke af en kry sy goedgekeurde planne in ruil daarvoor.

Hy sê dit was die begin van ’n wonderlike en doeltreffende samewerkingsooreenkoms. Sedert daardie heel eerste dag het hy elke keer met die emmer vol braaihoender en kola-drankies by die kantoor opgedaag en oor die jare heen was die diens nog net uit die boonste rakke.

Toe hy daardie eerste keer met sy klein-stukkie-braaihoender en kola aankom, was dit nogal opvallend, sê Proppie, dat die amptenare van daardie betrokke afdeling effe aan die skraal kant was. Een was veral amper geraamte-maer.

In die begin het hulle gerieflik op hulle stoele agter hulle lessenaars gesit. Deesdae, sê Proppie, sit ’n paar hulle stoele behoorlik vol. Ander, kan jy maar sê, loop eintlik oor soos hulle te groot vir hulle stoele geraak het . . .   

 

© 2024 Die/The Bronberger