Klein broedertjie se hoedertjie Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 23 April 2021 06:29
Untitled Document

Deurtrapte – en deesdae afgetrede – koerantman, Hennie Van Deventer, vertel nou die anderdag dié kostelike storietjie, sê Gert Mossie.

Dit is ’n storietjie wat hom nogal geroer het en hy wil probeer om dit so ver moontlik in Hennie se eie woorde oor te vertel:

“Ou mense mymer mos maar,” het Hennie vertel. “Ou koerantmense mymer oor stories wat hulle gedoen het. Oor die grotes wat hoofopskrifte en plakkate gehaal het, sekerlik ja. Maar ook oor kleintjies wat jou geroer het.”

“Een van my eerste opdragte nadat ek in 1963 heeltyds by ‘Die Volksblad’ ingeval het, was om te gaan verslag doen oor hoe die nuwe generasie Sub-A’tjies hul eerste skooldag ervaar. ’n Nuweling-verslaggewer is maar elke jaar met die holruggeryde opdrag gestraf.”

“Ek loop toe by die Laerskool Wilgehof ’n outjie raak wat onbedaarlik huil. Sy verdriet, blyk dit, was nie oor homself of sy kennismaking met die binnekant van ’n klaskamer nie. Hy was inderdaad al ’n veteraan met sy eerste skooljaar agter hom.”

“Sy jaar jonger boetie is egter op dié se eerste skooldag in sy sorg gegee. Sy verantwoordelikheid was om te sorg dat die abjater met die nuwe dissiplines reg kom en so.”

“Aan die ding ‘skool’ had kleinboetie egter nie sin nie. Hy het die spulletjie een kyk gegee, nie gehou van wat hy sien nie en vinnig die hasepad gekies na die vertroude omgewing van sy ouerhuis.”

“Wat nou? Ouboet besluit hy moet gaan red wat te redde is. Hy sit kleinboet verbete agterna. Maar ’n streng onderwyseres keer hom by die skool se hek voor: ‘A nee a, mannetjie, waar dink jy gaan jy heen?’ Seker gedink hy is ook ’n nuweling wat die hasepad wil kies.”

“Hartverskeurd sit Ouboet daar by die hek en huil toe ek en die fotograaf opdaag. So tussen die snot en trane deur vertel hy hortend vir die ‘oom van die koerant’ van die diepe ellende wat hom getref het, asook van sy vrees vir erge ouerlike toorn omdat hy sy plig versaak het.”

“My hart het na die knaap uitgegaan. Het amper my arm om sy smal skouertjies geslaan, wat vir my ’n ongewone ding sou gewees het om te doen.”

“Die dilemma van die broeder se hoeder was die inleiding van my berig. Dit word sterk op die voorblad aangebied. Toe ek van middagete terugkom, was die duplikaat van die berig (die “bloutjie”) op my tikmasjien met ’n groot boodskap uit die assistent-redakteur, Bart Zaaiman, se gevreesde rooi pen: “Felisitasies – uitstekende storie!”

“Eintlik ’n onverdiende pluimpie gewees. Die uitstekende storie het dan in my skoot geval. Ek moes hom maar net oorvertel,” het Hennie gesê.

 

© 2024 Die/The Bronberger