Bashewa-inwoners protesteer teen brandstof-opslagplaas PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 21 September 2009 15:56
Untitled Document

’n Brandstof-opslagplaas met bo- en ondergrondse tenks word vir plot 64, Bashewa, wat aan Garstfonteinweg- verlenging grens, beplan.

’n Voorstel is onlangs by die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling ingedien vir die installasie van 12 bogrondse en 10 ondergrondse brandstoftenks met ’n totale kapasiteit van 967 m³. Bashewa-inwoners is woedend oor die idee dat hul landelike omgewing in ’n gevaarlike industriële gebied omskep kan word waar eiendomswaarde oornag kan daal en mense en diere se gesondheid in gevaar gestel kan word. Hulle voel dat ’n brandstofopslagplaas geen plek in ’n landbougebied behoort te hê nie.

Daar is ’n aanlyn protes-platform geskep waar mense kan beswaar maak teen dié voorgestelde ontwikkeling by www.onlineprotest.co.za/bashewa. html. Inwoners is bevrees dat brandstof van die ondergrondse tenks in die watertafel sal beland in ’n gebied waar mense van boorgate afhanklik is vir hul drinkwater. Hulle noem dat Bashewa en die Bronberg die oorsprong van die Pienaarsrivier vorm en dat enige brandstoflekkasies ernstige gesondheidsrisiko’s vir duisende mense sal hê.

Inwoners se grootste vrees is egter die gereelde veldbrande in die omgewing en die katastrofiese gevolge wat sulke brande op ’n brandstof opslagplaas sal hê. Hulle is bang vir ontploffings soos die een wat onlangs in Durban gebeur het toe weerlig ’n opslagplaas getref het.


Twaalf bogrondse en tien ondergrondse tenks word vir Bashewa beplan

Volgens inwoners is die munisipaliteit se brandweerdiens in hulle omgewing bykans afwesig. Inwoners veg self teen veldbrande en noem dat hulle nie opgelei is om dié soort ontploffings onder beheer te bring nie.

Die mense van Bashewa is ook bekommerd oor rusversteuring en geraasbesoedeling as reuse brandstoftrokke dag en nag in dié omgewing gaan begin rondry. Hulle noem dat die bestaande landelike padnetwerk nie die swaarvoertuig verkeer sal kan hanteer nie.

Inwoners het van die opslagplaas te hore gekom nadat ’n klein kennisgewing teen ’n heining raakgesien is en die bure mekaar laat weet het.

Die datum op die kennisgewing en briewe, wat deel van die openbare deelnameproses vorm, is 18 Augustus. Bashewa-inwoners kla egter dat hulle nie almal dié briewe ontvang het nie. Inwonersvergaderings is vroeg in September gehou om bure byeen te roep om beswaar aan te teken teen die beoogde opslagplaas.

Hulle sê dat hulle nerens in die media dié kennisgewings raakgesien het nie en is bang dat die gebrek aan blootstelling sal beteken dat mense nie betyds kan registreer om beswaar aan te teken nie.

Die openbare deelnameproses word behartig deur omgewingskonsultante Mills & Otten van Greenside, Johannesburg en inwoners het tot 17 September tyd gehad om te registreer as belanghebbende partye.

Volgens Stephanie de Beer van Mills & Otten, sal ’n verslag saamgestel en aan belanghebbendes versprei word as die openbare deelnameproses beëindig is. Dit sal na 28 September wees.

Vir meer inligting, kontak Mills & Otten by tel: 011-486-0062, faks: 086-554-6573 of e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 

© 2019 Die/The Bronberger