Ondek dinge om te doen Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 20 February 2008 02:00
Untitled Document

In hierdie uitgawe fokus ons op diverse dinge om in die Bronberg-gebied te doen. Toe die idee gebore is om dié artikel aan te pak, het ons werklik self nie besef wat die omvang daarvan sou wees nie. En ons kon letterlik maar net aan die spreekwoordelike oortjies van die seekoei aandag gee.

Die landelike gebied oos van Pretoria wat as die Bronberg bekend staan, is ryk aan ondernemende en skeppende mense wat in vennootskap met die unieke omgewing waarin hulle woon, ‘n magdom fassinerende dinge om te doen, te sien en te leer tot lewe geroep het. Ons hoop om in die toekoms, met dergelike opvolgartikels, meer van die seekoeilyf aan ons lesers te wys.

In hierdie uitgawe vertel ons jou byvoorbeeld van natuurlike rotspoele waar die gesin kan gaan swem en in die ongerepte natuur kan ontspan. Ons stel jou voor aan tromsirkels waar oeroue instrumente aangewend word om die siel met ritme te voer en te laat groei. Jy kan in die Bronberg-gebied van vuurdanse tot tradisionele boeredanse leer doen. Jy kan perdry, bergfiets ry of wettiglik met brullende vierwiel-kragfietse die stof uit die aarde uitjaag. Jy kan jou vernuf met‘n verfbalgeweer op die proef stel of jy kan ‘n rustige staproete in die berg met sy unieke plantegroei aanpak.

Vir die romanties-ingesteldes is daar geleentheid om ‘n maanligpiekniek teen die hange van die Magaliesberg te hou en vir die van ons wat van tradisionele kos hou, is daar die kans om smulgeregte uit ‘n vergange tyd, soos gebakte skaapkop, afval of skaapstertjies te geniet. Hier kan kinderpartytjies in die bos gehou word of die kleingoed kan kennis maak met plaasdiere en selfs ‘n verskeidenheid miniatuurdiertjies leer ken.

Buitelug ‘rock’-feeste of ‘n opskop of ‘country show’ in ‘n merkwaardige klub kan in die gebied geniet word of ‘n nostalgiese rit na toeka kan in twee deelname-museums ervaar word. Ons vertel jou van spesialis-kwekerye in die gebied en van ‘n geleentheid om iets unieks uit die verlede by antiek- winkels of kristalle uit moeder aarde uit te snuffel.

En ons stel jou voor aan twee welsynorganisasies waar jou helpende hand ‘n groot verskil kan maak.

Die fokus op dinge om in die Bronberg-gebied te doen, het ons weer opnuut laat besef welke besondere omgewing hierdie is. Ons vertrou jy sal die ontdekkingsreis geniet.

 

© 2020 Die/The Bronberger