Verlede jaar in September was ons geseënd genoeg om
die grootste Bronberger nog as ons verjaardaguitgawe
uit te gee. Toe het ons ’n hele ses jaar oud geword.
Met hierdie uitgawe vier ons ons sewende verjaardag en
ja, Die Bronberger wat jy nou in die hand het, is die
grootste een wat nog die lig gesien het. En daarvoor is
ons sewe maal sewentig keer dankbaar.
Ons is dankbaar teenoor die handjievol mense wat oor
die afgelope sewe jaar saam met ons gewerk het om
maand na maand ’n eie gemeenskapspublikasie vir die
mense van die Bronberg-gebied saam te stel en uit te
gee.
Dit was nie altyd maklik nie, maar dit was altyd ’n plesier
om ast’ware, die eerste sewe spreekwoordelike sakke
sout saam met veral vier toegewyde en bekwame vroue
te verorber. Hulle heet Angie, Jeanette, Tania en Elsabé.
Ons is dankbaar teenoor ons lesers wat van die begin af
‘Die Bronnie’ met ope arms en harte in hulle midde verwelkom
het en deur meelewing en deelname dié onafhanklike
publikasie ’n integrale deel van die eiesoortige
gemeenskap van die Bronberg-gebied gemaak het.
Dit is ’n ongelooflike, bevredigende voorreg om ons
mense met trots te hoor praat van “ons eie boekie”.
Ons is dankbaar teenoor ons adverteerders, groot en
klein, gereeld of sporadies. Hulle is die lewensbloed wat
Die Bronberger moontlik maak. Die ondersteuning wat
ons geniet om selfs in dié knyptang ekonomiese tye ’n
gesonde groei te kan toon, word oneindig baie waardeer
en dien terselfdertyd as barometer vir ‘Die Bronnie’
se gewildheid onder sy lesers en hulle bereidwilligheid
om ons adverteerders te ondersteun.
Ons is veral dankbaar teenoor ons Skepper en die
genade wat alles oor die afgelope sewe jaar moontlik
gemaak het.
Ons sien met vertroue en blye afwagting uit na ons agtste
bestaansjaar. |