Nou lê sy loopbaan in puin Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 19 March 2021 04:54
Untitled Document

Sy moontlike loopbaankeuses en wat skeef geloop het, of skeef kon loop, bespreek oom Buks Barnard (onder sy skrywersnaam Dom Boer) die afgelope weke reeds gereeld op die Bronnie se vuisboekblad.

Die moontlikhede is legio en net ’n paar word uitgelig.

Hy kon, sê oom Buks byvoorbeeld, probeer het om ’n bestaan te maak uit goëltoertjies, maar hy hou nie eintlik van kan-toor werk nie. Hy het dit oorweeg om ’n onderwyser te word, maar onderwysers is in ’n klas van hulle eie . . .

Destyds toe hy vir sy ouers gesê het hy wil ’n renjaer word, het hulle gesê hulle sal nie in sy pad staan nie, sê Buks. 

“Ek wou ’n bestaan maak deur my geheime elikser wat ewige jeug verseker te verkoop, maar elke keer as ek dit probeer, neem die orige polisie my in hegtenis oor ek kastig ’n swendelaar sou wees. Dit het in 1763, 1845, 1904, 1966 en nou weer in 2021 gebeur,” sê ‘Dom Boer’.

Ten einde raad het hy toe maar ’n argeoloog geword; nou lê sy hele loopbaan in puin, sê hy.
Ja, sê Gert Mossie, sy eie planne om ’n beroemde skrywer te word, het effe aan die pen gery, toe wend hy hom maar na die joernalistiek.

Só baie gebeure, só baie stories en kleurryke karakters het geloop langs sy pad van drukkersink en papier, dat ‘vullers’ uit die verloopte gereeld onwillekeurig in sy ou onthouding kom lê, sê Gert.

By ’n destydse nuwe oggendblad in Pretoria, is die gesonde gewoonte gevestig om ’n ordentlike natsteen met elke 100e uitgawe te hou. Vir dié wat dalk nie weet nie: Die steen was ’n smal, langwerpige tafel (gewoonlik met granietblad) waarop die blaaie ‘gepak’ is deur loodletters (onderstebo) in houtrame te pak: Elke storie se letters op sy plek op die blad, soos deur ’n sub op papier aangedui, ingepak.

Met ’n natsteen is die steen gedek met koerantpapier (skoon) en daarop is drankbottels en die nodige ys, water en ‘mieks’ saam met ’n paar versnaperinge uitgepak, sê Gert Mossie.

Dan het die mense van redaksie saam met die mense van die ‘fabriek’ behoorlik gekuier. Gees is gebou, mense van onder in die fabriek en mense van die redaksie het mekaar leer ken.

Die anderdag wanneer onthou hy weer iets van die heel eerste natsteen ter viering van die heel eerste 100 uitgawes, sê Gert. Die betrokke oggendkoerant se redaksielede was oor die algemeen uitsonderlik jonk en die redakteur was baie jeugdig, gemeet aan die deursneë van destyds.

In die fabriek het so ’n kort, bonkige knaap met die naam van Georgie gewerk. Soos die aand vorder en die steen metterwoon al natter word, word die gesels luider en word met min inhibisie tussen die twee ‘afdelings’ gekuier.

Dis toe dat ’n ietwat aangeskote Georgie voor die jeugdige redakteur loop staan en homself voorstel. “En jy, wat doen jy hier by die koerant,” wil Georgie weet. Die netjiese jong man antwoord toe dat hy die redakteur is, sê Gert Mossie.

Georgie het so tree of wat teruggestaan. Met ’n skewe kop het hy die redakteur langsaam op en af bekyk en met selfvertroue laat waai: “Kyk, as jy die (knoopwoord) redakteur is, is ek (knoopwoord) Arnold Taylor.” (Bekende bokser van destyds.)

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger