Staalpen-lokvalle lei na roof Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 19 March 2021 04:36
Untitled Document

Verloofdes van Pretoria-Noord was op pad huis toe ná ’n besoek aan Sabie, toe hulle in ’n lokval op die N4-Oos snelweg beroof is. Staalpenne word in die pad gestel wat dan voertuie se bande aan flarde skeur as daar oor dit gery word.

Marlize Joubert, haar verloofde, Schalk van Heerden, en hulle seuntjie, Evan, is omstreeks 8 nm op 28 Februarie, net ná hulle deur die Diamond Hill tolhekke is, oor een van die berugte staalplaat-wippe met hulle skerp metaalpenne.

Magdèl Goose van Kleinfontein sê dat sy heeltyd oor dié lokvalle lees en die paaie vermy, maar toe gebeur dit met dié aangetroude familie van haar. Sy sê dat hulle motor se bande in die lokval beskadig is en dat hulle so ver moontlik probeer ry het, maar naderhand moes stilhou.


’n Tipiese lokval wat op paaie gesit word om bande te beskadig
Foto: Verskaf

Sewe gewapende mans het hulle oorval en alles in die voertuig is gesteel. In Marlise se handsak was haar seuntjie se gehoorapparate en dit is ook gevat. Die metropolisie, wat met patrollie besig was, het ’n paar minute ná die voorval daar aangekom.

Magdèl sê dat die mense ongedeerd is, net baie getraumatiseer. “Daar is ’n klein seuntjie wat vandag wonder hoekom hy al weer niks kan hoor nie. Evan het ’n dubbele kogleêre inplanting ontvang en die apparaat, wat ’n paar weke gelede vervang is, is baie duur, ” sê sy.

Die metropolisie het vroeër in Februarie gewaarsku dat staalplate met skerp metaalpenne veral snags op die N4-Oos snelweg naby die Diamond Hill-tolhek geplaas word om motoriste te dwing om stil te hou ná hulle voertuie se bande beskadig is.

Skakel die metropolisie by 012-358-7095/6 as jy meer inligting hieroor het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger