Motoriste omgekrap oor verkeer op Boschkoppad Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 19 March 2021 04:34
Untitled Document

Motoriste kla al jare lank oor die verkeersopeenhoping by die Boschkoppad se T-aansluiting met Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg). Hulle kan nie verstaan hoekom ’n broodnodige verkeerslig nie daar aangebring word nie, siende dat ’n skynbaar onnodige verkeerslig ’n paar honderd meter verder in Grahamweg opgerig is.

Met die heropening van skole op 15 Februarie het die lang toue voertuie op die Boschkoppad, wat wag vir ’n gevaarlike kans om op Lynnwoodweg te kom, bykans verdubbel.

Inwoner Clair Smith het vertel dat die twee weke voor dié heropening klaar ’n verkeersnagmerrie was. Sy sê dat die verkeer in die oggende voor die Zwavelpoortsentrum by dié stopstraat opbou en dat dit net erger raak.

Mike Strange, raadslid vir wyk 101, gebruik dié paaie daagliks alhoewel die T-aansluiting eintlik in wyk 91 val. Hy sê dat Grahamweg (die M6) en die Boschkoppad (die D631) albei Gautengse provinsiale paaie is.


Die lang tou voertuie wat in piektyd in die Boschkoppad opbou
Foto: Clair Smith

Volgens Mike word verkeersligte by dié T-aansluiting beplan en moes in sy opinie lankal opgerig gewees het. Die ‘grootmaat bydraes’ vir infrastruktuur van ’n plaaslike ontwikkeling is vir die opgradering van dié T-aansluiting opsy gesit. Tog, sê Mike, is geen tydskaal beskikbaar vir die oprigting daarvan nie.

Hy verduidelik dat die verkeersligte en opgradering van die Sabi Starweg-Grahamweg kruising, net ’n entjie weg van die Boschkoppad se aansluiting, deur ’n ontwikkelaar aan die noordelike kant van die kruising gedoen is.

Dié verkeersligte is voor Kungwini Welsynsorganisasie. Daleen Botes, direkteur van dié organisasie, sê dat die verkeerslig deur Innoland betaal is as deel van hulle ontwikkeling, maar dat daar tot dusver nog niks daar gebeur nie.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger