Brandarm boereseun word oom Bossie die bankbaas Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 19 February 2021 17:52
Untitled Document

Angie Kleijn

Dié is die verhaal van ’n brandarm seun, wie se gesin deur die Engelse Oorlog verwoes is. Hy het net tot standerd ses skoolgegaan en het teen ’n hongerloon by ’n plaaswinkel begin werk, waar hy gedroom het om ’n bank en winkel tot stand te bring. Dié drome is bewaarheid met die stigting van Volkskas, wat aanvanklik die “Bank van Oom Bossie” genoem is, en Uniewinkels.

Oom Bossie het op ’n landgoed, genaamd Arbeidsaam, gewoon en die deel met die huis op val vandag in Joseph Bosmanstraat 517, Silverton. Volgens SJ Kritzinger, skrywer van ‘Rustig vloei die Moreletta’, kan Silverton maklik die “Dorp van Oom Bossie” genoem word.


Joseph Bosman op 24-jarige ouderdom
Bron: ‘Die Bank van Oom Bossie’

Joseph Jacobus Bosman is op 23 Januarie 1895 op die plaas Naauwpoort in die Rustenburg-distrik gebore as die seun van Eduard Christian Bosman en Helena Susara, ’n nooi Robertse.

Toe hy drie jaar oud was, het sy ouers hulle in die Potchefstroom-distrik gevestig. Teen die einde van die Engelse Oorlog het hy saam met sy ma en twee ouer broers in die Potchefstroomse konsentrasiekamp beland.

Die oorlog het sy pa geruïneer en die jong Joseph, wat ’n eenmanplaasskooltjie bygewoon het, moes skoene leen toe hy die eksamen vir sy skoolverlatersertifikaat in die dorp gaan aflê het. Volgens die ekonomie- en bedryfshistorikus, prof Grietjie Verhoef, het Joseph sy skoolopleiding net tot op standerd 6-vlak voltooi.


Joseph op 16-jarige ouderdom net ná hy in die winkel begin werk het
Bron: ‘Die Bank van Oom Bossie’

Winkel
Omdat hy nie wou boer nie, het Joseph op 15-jarige ouderdom teen ’n loon van £3.10s per maand as klerk by ’n plaaswinkel begin werk, waar deel van sy take was om die winkel uit te vee.

Joseph het leer- en oefenboeke in boekhou en snelskrif deur die pos bestel en het self, sonder enige leermeester, begin studeer. Sy eerste droom was dat hy deur die uitgee van £1-aandele genoeg kapitaal bymekaar kon skraap om sy eie winkel te open.

Op die ouderdom van 19 jaar het Joseph in Johannesburg as assistentboekhouer in die groothandelsonderneming, Simpson’s, begin werk. Hy het hom binne enkele jare tot rekenmeester opgewerk en het by Simpson’s bedank en by ’n rekenmeesters- en ouditeursfirma, JS Richardson, met kantore in die Johannesburgse Effektebeursgebou, aangesluit.


‘Arbeidsaam’, die Bosman-huis in Silverton
Bron: ‘Die Bank van Oom Bossie’

Hier het hy waardevolle ondervinding opgedoen van maatskappy-administrasie. Die snelskrif wat hy studeer het toe hy nog in die plaaswinkel gewerk het, het hom gehelp met die afneem van notules op direksie- en aandeelhouersvergaderings. Die 26-jarige Joseph het steeds groot gedroom en terwyl hy in 1921 hier gewerk het, het die idee om ’n eie bank vir Afrikaners te stig, by hom posgevat.

Dit is in sy tyd in Johannesburg wat Joseph sy aanstaande, Anna Maria Welman, die dogter van ’n bekende familie van Linden, Johannesburg, ontmoet het. Anna, wat die bynaam ‘Nancy’ gehad het, was een van die 12 kinders van Hendrik Jacobus Welman en Maria Margaretha (Mimi), ’n nooi Blom.


Volkskas se kenteken – twee hande met ’n eenvoorploegie bokant die leuse Arbeidsaamheid

Joseph het in 1921 by JS Richardson bedank en as rekenmeester by JL van Schaik Beperk, boekhandelaars en uitgewers in Pretoria, begin werk. Hy en Anna is in 1922 getroud. Hulle het twee kinders gehad, ’n dogter, Maria Margaretha (Riekie), en seun, Ion. Anna is egter op 17 November 1924 met Ion se geboorte oorlede. Sy was maar 33 jaar oud.

Tien jaar later, teen die einde van 1934, het Joseph by JL van Schaik bedank. Voor sy bedanking reeds was hy besig om steun te werf vir die stigting van ’n bank.


Oom Bossie, Joseph Jacobus Bosman
Foto: Kraal Uitgewers

Bank
Al het Joseph dié droom van ’n bank sedert die vroeë 1920’s gekoester, kon hy eers in 1933 begin om sy ideaal te verwesenlik. Die Broederbond het op 12 Augustus 1933 ’n komitee aangestel vir die vestiging van ’n spaarbank vir Afrikaners en Joseph is as voorsitter aangestel.

Dié komitee het op 3 Maart 1934 sy verslag aan die Broederbond gelewer, wat aandui dat ’n spaarbank vir die volk, ’n koöperatief, gestig behoort te word. Die doel van die bank was onder meer die verligting van die ernstige armoede onder Afrikaners – hulle wou mense help “om op hulle eie voete te staan en hulself te help”.


As kind was Oom Bossie in die Potchefstroomse Konsentrasiekamp
Foto: Pinterest

Volkskas is op 3 April 1934 amptelik in Pretoria gevestig. Die oorspronklike kenteken was hande wat besig was om die grond met ’n ploeg te bewerk. Die woord ‘Arbeidsaamheid’ is as slagspreuk gekies. In sy ontmoetings met moontlike beleggers het Joseph dikwels na die bank verwys as ’n instelling wat uit die mense tot stand gekom het, om die mense te dien.


Anna se pa, Hendrik Jakobus Welman, in 1917
Foto: Geni

Joseph het in 1922 met Anna Maria, ’n nooi Welman, getrou
Foto: Geni


Anna se ma, Martha Margaretha (Mimi), ’n nooi Blom, in 1917
Foto: Geni

Registrasiedokumente vir die bank is opgestel en die minister van finansies het laat weet dat die bank kon registreer as daar 5 000 aandele is. Teen Junie 1934 het dit ’n realiteit geword en op 9 Julie 1934 is Volkskas (Koöperatief) Beperk in die Register van Koöperatiewe Verenigings gelys.

Die raad het bestaan uit universiteit professors, onderwysers en Afrikaanse kulturele leiers verbonde aan die Afrikaner Broederbond. Joseph was aanvanklik sekretaris van die koöperatief, maar het vanaf 1935 bestuurder by die hoofkantoor geword.


Die plaat voor Volkskas se hoofkantoor in Pretoria
Bron: Jan C Greyling

Op 1 Januarie 1935 het die bank op ’n beskeie skaal as spaar- en kleinleningsbank begin sake doen in twee klein vertrekkies op die tweede verdieping van die De Villiers-gebou in Burostraat, Pretoria.

Die enigste personeel was Joseph en ’n tikster. Teen die einde van Junie 1935 het die bank £3 794 in deposito’s en £17 880 in vaste deposito’s ontvang en lenings van £23 583 toegestaan. Die eerste tak is op 1 Augustus 1935 in Markstraat, Johannesburg oopgemaak.


’n Volkskas-advertensie in ‘Die Wapad’ van 26 Mei 1965

Uniewinkels
Joseph se droom om sy eie winkel te stig het in 1936 gerealiseer toe hy Uniewinkels (Koöperatief) Beperk as ’n eie Suid-Afrikaanse winkelgroep gestig het. Natuurlik kon “Die bank van Oom Bossie” toe help met die winkel se finansiering.

Uniewinkels was ’n algemene handelaar wat Afrikaners met elkedagse voorraad voorsien het en het ook kredietfasiliteite gebied. Hulle slagspreuk was soortgelyk aan dié van Volkskas, “In diens van ons volk”.

Uniewinkels is met die ekwivalent van R1 934 aandelekapitaal begin en het glo aanvanklik gesukkel, maar het danksy Volkskas se bystand in 1937 ’n tweede winkel in Bloemfontein oopgemaak.



“Volkskas is u eie bank”
Bron: Die OB 4 Maart 1942

Die groot deurbraak het gekom toe Uniewinkels as die amptelike voorsiener van aandenkings vir die Voortrekker Eeufees in 1938 aangestel is. Volkskas het ’n kraampie by dié fees gehad om klante te werf uit die stroom besoekers wat die Groot Trek herdenk het. Volkskas het selfs fondse beskikbaar gestel sodat besoekers hulle verblyf by die fees kon verleng.

Van die aandenkings wat Uniewinkels vir die fees verkoop het, doen vandag nog die rondte as versamelaarsitems. Uniewinkels het later takke in Pretoria, Benoni, Johannesburg, Germiston, Heidelberg, Vereeniging, Vanderbijlpark, Sasolburg, Piet Retief, Ermelo, Rustenburg, Belville en Kaapstad gehad. Joseph het later sy verbinding met Uniewinkels tot ’n einde gebring sodat hy sy volle aandag aan Volkskas kon gee. Uniewinkels het later as John Orr’s bekendgestaan.



“’n Tjek is veiliger” lui dié 1949 Volkskas-advertensie
Bron: OB, 13 Julie 1949

Trou
Joseph het eers in 1940, toe hy 45 jaar oud was en Oom Bossie genoem is, weer getrou – dié keer met Elizabeth Catherina Coetzee, wat later as ‘Tant Blackie’ bekend gestaan het. Hulle het in 1945 ’n seun, Joseph Jacobus, gekry en het in 1948 ’n Duitse wesie aangeneem.

Die gesin het op die Arbeidsaam-landgoed gewoon en SJ Kritzinger skryf dat die Bosmans huislik, vriendelik en minsaam was. Oom Bossie was altyd besig om die tuin te beplan, of om bome te plant en te snoei. Hy het sy lektuur oor bankwese op kantoor agter gelaat en by die huis het hy oor ander dinge opgelees. Hy het veral ’n studie van die mens gemaak en het ’n private studiekursus in “Persoonlike Magnetisme en Selfverbetering” opgestel.


Minder as drie maande voor destydse premier, Hendrik Verwoerd, se dood in 1966 het hy dié Volkskas-tjek aan Saamwerk Handelaars op Heilbron uitgeskryf
Bron: Litnet

Volkskas het op 1 Maart 1941 begin tjekrekenings oopmaak. In 1944 word dit ’n bank in private besit en al die eienaars was lede van die Broederbond. Die bank is in 1947 amptelik as kommersiële bank geregistreer.

In 1948 is die AJO Erepenning aan Oom Bossie toegeken. Hy was lid van die Ekonomiese Instituut, wat in 1939 gestig is, asook verskeie Afrikaanse ekonomiese en kulturele organisasies en verenigings soos die Kerkkantoor-kommissie van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk.


Suidwes-Afrika vyf pond banknoot, 1959, Volkskas Beperk
Bron: www.worldbanknotescoins.com

Oorlede
Oom Bossie is op 29 Junie 1952 in die ouderdom van 57 jaar oorlede. In die maande wat sy dood voorafgegaan het, was hy besig met ’n studie van die Bybel. Hy was ’n ouderling in sy kerk en het elke aand vir die gesin huisgodsdiens gehou.

Sy begrafnis was op 1 Julie vanuit die Ooskerk en meer as 400 mense het die begrafnis bygewoon. Daar was ’n stoet van oor die 130 motors en onder die aanwesiges was die eerste minister, dr DF Malan, en minister van justisie, CR Swart. Die moderator van die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk, ds CB Brink, het die roudiens waargeneem. Advokaat JG Strydom het ’n toespraak by die graf gelewer.


’n Uniewinkels-advertensie in die OB, 13 Julie 1949

Ten tye van Oom Bossie se dood, was Volkskas die derde grootste bank in Suid-Afrika. Die bank het langtermyn finansiering begin bied deur Volkskas Beleggingskorporasie Beperk en het gehelp met die stigting van die Nasionale Bouvereniging, wat later saam met Saambou ’n groot rol in die beskerming van Afrikaner-belange in konstruksie gespeel het.

’n Nuwe beheermaatskappy, Volkskas-Groep Beperk, is gestig met vyf aktiewe filiale: Volkskas Beperk; Volkskas Aksepbank Beperk; Volkskas Industriële Bank Beperk; Volkskas Nywerhede Beperk; en Volkskas Kommersiële Eiendomme Beperk.


“Die trots van elke boer”, ’n Uniewinkels-advertensie
Bron: Die OB 4 Maart 1942

In die vroeë 1990s is die Amalgamated Banks of South Africa (ABSA)-groep gevorm deur die samesmelting van die United, Allied en Volkskas Groepe met ’n deel van die Sage Groep. Die banke het onder hulle eie name handel gedryf tot 1998 toe United, Volkskas, Allied en TrustBank onder die Absa-sambreel saamgesmelt het.


’n Uniewinkels borsspeld
Bron: bidorbuy
.
.

Uitgegee deur Uniewinkels: ’n brons medalje vir die Voortrekker Eeufees Kaapstad na Mgungundlovu na Pretoria fakkelloop
Bron: bidorbuy
 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger