Esperance bring hoop vir personeel en ander in kankersaal Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 19 February 2021 17:52
Untitled Document

Inspirasie, bemoediging en ’n fokus op die mooi dinge in die lewe is iets wat hospitaalpersoneel in dié tye broodnodig het. Min het die span by Life Groenkloof se onkologie-afdeling geweet dat dit en veel meer hulle kant toe sal kom deur een van hulle eie pasiënte. Nog minder het hulle geweet dat die gevolge daarvan só wyd in die media sou uitkring.

Die pasiënt is Esperance Grobler van Wapadrand, wat teen die einde van Augustus verlede jaar met akute miëloïede-leukemie (AML) gediagnoseer is. Sedertdien het sy ongeveer 90 dae in die hospitaal spandeer vir behandeling wat strek van chemoterapie tot bloedplaatjie- en bloedoortappings.


Hospitaalpersoneel luister na Esperance Grobler se sang
Foto: Skermgreep uit video

Die behandelingsplan was om twee weke in die hospitaal te wees en daarna twee weke by die huis, maar soveel dinge het Esperance getref – van Shigella tot E. coli – dat sy telkens langer in die hospitaal was.

In die jaar van die pandemie is sy 3 uur die oggend van 27 Augustus per ambulans hospitaal toe gejaag met erge asemnood en borspyn. Toetse het egter gewys dat sy nie Covid het nie. Haar man, Johannes, moes daardie dag ure buite die hospitaal wag terwyl Esperance toetse ondergaan. Uiteindelik moes hy hoor dat sy pas by die onkologie-saal ingestoot is. Chemoterapie is ’n dag ná diagnose begin.


Esperance en haar man, Johannes

Teen die einde van haar reeks behandelings in Januarie het Esperance se dokter gevra of sy iets vir die personeel sal sing. Esperance, wat sang- en klavieronderrig vanuit haar ateljee in Wapadrand bied, het besluit om ‘La Vie en Rose’ – Franse sangeres Édith Piaf se kenmerkende lied – vir hulle te sing.

“Dokters, susters en pasiënte het geluister en van hulle het gehuil. Dit was vreemd. Ek was glad nie skaam nie. Dit was so lekker,” het Esperance, wie se naam ‘Hoop’ beteken, gesê.


Daar was ’n groot verwelkoming toe Esperance op 17 September vir die eerste keer vir ’n rukkie uit die hospitaal kon kom. Van links na regs is haar oudste dogter, Danielle, Esperance, Johannes en haar jongste dogter Tanika

Die volgende dag is Esperance deur die hoofsuster opgekommandeer om vir die onkologie-saal te sing en sy het met die drup-staander aan haar sy gereed gestaan. Dié keer is daar ’n selfoon video-opname van Esperance se sang geneem en dit is dié opname wat die wêreld aangegryp het.

Esperance se jongste dogter, Tanika, het die video op YouTube gesit: https://youtu.be/i99tenmD6BI.


Op Mei 2014 se voorblad het Esperance gaan kennis maak met dié swart swaan by die Bronberg Wynlandgoed. Die Faan Smuts-kapèl is in die agtergrond

Esperance op die Bronnie se voorblad in Augustus 2003 op Zwavelpoort. Vandag is daar ’n landgoedontwikkeling waar dié oopte was
.

Mense het die video op sosiale media gedeel en kommentare, soos dié een, het begin instroom: “Jy bring hoop met jou wonderlike stem al is jy nie in die lekkerste plek nie. Dis klaar ’n oorwinning. Ek dink aan jou en weet so baie van ons stuur goeie wense dat jy jou pad sal stap ook met deernis vir jouself.”

Kykers het Esperance se optrede in die onkologie-saal as hartroerend ervaar en baie wat haar nie eers ken nie, het gesê dat dit hulle diep geraak het. “Om so te kan teruggee terwyl jy eintlik moet ontvang,” is ’n kommentaar wat keer op keer op verskeie maniere gesê is.


Esperance se vertoning, ‘Winterpad’, by Asbos-teater in 2013

Baie mense het geskryf dat dit ongelooflik is om te dink dat Esperance, wat sekerlik baie pyn ervaar het, ander laat beter voel en op so ’n mooi manier inspireer.

“Dit was heerlik,” sê Esperance. “En ek is eintlik verbaas dat my stem so hou as jy dink my lyf is so swak.”


Esperance sing ‘La Vie en Rose’ in die onkologie-saal
Foto: Skermgreep uit video

Oor die terugvoer op die video-opname sê Esperance, “Dis nogal oorweldigend; nooit gedink dit sal so reaksie veroorsaak nie. Maar ek vat dit vir my in my hart, as liefde en ondersteuning.”

Bronnie-lesers het deur die jare oor Esperance gelees. Sy was op die Bronnie se voorblad in Augustus 2003 en Mei 2014; die Bronnie het in April 2005 oor haar berig toe haar CD, ‘Hoop’ vrygestel is; en ook in Augustus 2013 oor haar vertoning, ‘Winterpad’, by Asbos-teater.


Esperance en haar verpleegster, Tryphina, toe die bloeddrukmeter op 31 Januarie wys dat sy nie meer hipotensie (baie lae bloeddruk) het nie

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger