Braaihout kan jou laat skuim om die mond Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 19 February 2021 17:32
Untitled Document

Wees versigtig as jy braaihout in die veld optel. Daar is ’n sekere boompie wie se hout so giftig is dat jou braaivleis noodlottige gevolge kan hê.

Ons praat van Boesmansgif, Acokanthera oppositifolia, wat ook as Boesmanspyl, Boesmansgifboom, Boesmansgifpyl, Gewone Gifboom of Gifboom bekendstaan. Die Boesmans (Khoisan) in die Kalahari het dié plant se melksap aangewend as deel van die mengsel wat gebruik is om aan hulle gifpyle se punte te smeer wanneer hulle gaan jag.

Die melksap in die wortels, stamme en blare bevat hartglikosiede, wat giftig is en die membrane van die hart en die hart se spier-sametrekking direk beïnvloed. Simptome sluit ’n brandende pyn, skuim om die mond en braking in.


Die boompie
Foto: suntrees.co.za

Tog vreet sekere voëlsoorte die ryp vrugte sonder om iets oor te kom en die blomme lok vlinders en bye. Die kenners sê egter dit is raadsaam om die vrugte as giftig te beskou. Die boompie is droogtebestand en in droë tye word vee dikwels na dié groen blare gelok en kan daarvan vrek.

Boesmansgif is tradisioneel gebruik om spinnekop- en slangbyte te behandel asook vir ontwurming. Dit word nie aanbeveel om dié rate self tuis toe te pas nie. Dié boompie se sap is al in moord en selfmoord gebruik en ook om troppe rondloperhonde, wat vee doodbyt, te vergiftig.


Vrugte
Foto: Wikipedia

Struik
Boesmansgif is gewoonlik ’n medium tot groot struik met verskeie stamme maar, afhangende van waar hy voorkom, kan hy ’n boom van tot sewe meter hoog word. Hy is immergroen of semi-bladwisselend met aantreklike groen blare, wat soms ’n brons skakering het.

Trosse pienkerige wit blommetjies met ’n soet geur verskyn vanaf laat in die winter tot vroeg in die lente en word gevolg deur vruggies, ovaalvormige bessies van 2,5 cm lank, wat van groen na rooi verander en uiteindelik ’n perserige swart kleur kry as hulle ryp is. Elke vrug ontwikkel tot twee sade.

Die bas is bruin wanneer die boompie jonk is en word donkerder bruin tot swart met ’n growwe tekstuur soos hy ouer word.


Blomme en blare
Foto: Wikipedia

Familie
Boesmansgif is een van drie Suid-Afrikaanse lede van die Acokanthera genus. Hy behoort aan dieselfde familie as baie gewilde subtropiese ornamentele plante soos die frangipani, dié in die allamanda-genus en oleander, sowel as die impalalelie en grootnoemnoem. Die familie word gekenmerk deur die soet geur van hulle blommetjies en die melksap, wat baie keer giftig is.

Die boompie kan in die meeste soorte grond geplant word en is windbestand sowel as droogte- en rypbestand. Hy kan in vol son of skadu groei en kan van saad of steggies gekweek word. Wees net bedag daarop om handskoene te dra wanneer jy die plant hanteer en om Boesmansgif nie in omgewings waar troeteldiere en jong kinders is, te plant nie.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger