Katte by Bronkhorstbaai in strikke gevang Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 22 January 2021 13:33
Untitled Document

Inwoners van Kungwini Ranch by Bronkhorstbaai is bekommerd oor katte wat in strikke gevang word.

Alta Strydom van Witkruisarendstraat vertel dat twee katte teen die einde van Desember by hulle aangekom het ná hulle in strikke gevang is. Die een kat, ’n swart-en-wit korthaar mannetjie, was in ’n ernstige toestand en hulle het hom veearts toe geneem en ’n klagte by DBV-inspekteurs gelê.

Dr R Van Rheede Van Oudtshoorn van die Cullinan Dierehospitaal het die kat op 28 Desember gesien en het ’n verslag oor sy beserings en behandeling geskryf. Sy het gesê dit lyk asof die kat omtrent sewe dae al met die strik om sy lyf rondgeloop het.

Algemene narkose moes toegedien word om die kat te ondersoek en behandel omdat hy nie ’n mak kat was nie. Daar was ’n oop wond, wat deur ’n strik veroorsaak is, rondom die buik en bekken. Die wond was so diep dat dit deur die eerste twee buikspiere gesny het. Die kat moes vir drie dae in die hospitaal bly.

Hy is op 30 Desember met ’n klomp antibiotika en pynmedikasie in Alta se sorg ontslaan.


Strikke word skynbaar in dié klipperige koppies op Kungwini Ranch by Bronkhorstbaai gestel
Foto: Alta Strydom

Alta sê dat dié kat een van die heel wildstes is wat sy voer, maar dat hy haar genadiglik toegelaat het om die strik af te haal; sy weet nou nog nie hoe dit gebeur het nie.

Hy is gesteriliseer en vrygelaat en Alta sien hom nog elke nou en dan. Die ander kat wat ook in ’n strik gevang is, het gelukkig nie so lank met die strik om sy lyf geloop nie. Hy is nog gereeld om Alta se huis. Sy sê sy weet nie hoeveel katte in strikke gevang word nie; sy sien net elke nou en dan as sy die katte voer, dat daar van hulle weg is.

Alta sê dat dassies ook so gevang word en dat dit ’n baie wrede dood moet wees. Sy vermoed dat die strikke deur bouwerkers, wat in die omgewing werk, in die klipperige koppies op die landgoed gestel word.

“Ons lewe elke dag in vrees omdat ons nie weet watter diere weer in ’n strik gevang is nie. Die goed is nie verwyder nie,” sê Alta.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger