Niks om oor te spot nie Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 22 January 2021 13:31
Untitled Document

Hy weet dis nie sake waaroor ’n ou eintlik moet spot of ligsinnig behoort te raak nie, sê Gert Mossie. Maar hy wonder tog of Cyril se toespraakskrywer per ongeluk of aspris, slim of snaaks probeer raak het en of hy of sy sommer net aspris was met die laaste aanmekaar-gestringde klomp woorde oor ‘die virus’.

Ernstige sake, sê Grootpiet, wat hier langs Gert op die plaasdam se oewer (op ’n veilige afstand) sit. Elk het ’n kosbare bruisdrankie in die hand. Ten duurste deur die smokkelhandel is dié aangeskaf.

Ja, die erns van die saak besef hy al te goed, sê Gert Mossie, maar wat vir hom effe aspris ongevoelig in die toespraak was, was die talle verwysings na begrafnisse as doodswippe. Of soos dit in een van die 11 amptelike tale (waarin die toespraak was) gestel is: “Funerals are death traps.” Dit kan dalk net wees dat die toespraakskrywer ietwat van ’n verwronge sin vir humor het en moontlik iets van ironie verstaan, sê Gert.

Waaroor hy nou wonder, sê Grootpiet, is of hierdie dam se oewer dalk iewers in die beskrywing van verbode plekke in die inperkingstyd, kan tel. Daai hoofpolisieman met die groot hoed is, só lyk dit vir hom, vasbeslote om mense wat alleen in die oopte van die land se versteekte strande en strandmere ontspan, in die veilige, volgepakte polisieselle te stop.

Hy moet bieg dat hy nog nie die geduld en/of verstand gehad het om een van die virus-toesprake ten volle deur te luister, of heeltemal te verstaan nie, sê Gert Mossie. Maar hy kan nie onthou dat iemand iets oor ’n plaasdam as verbode terrein gemeld het nie.

Hy kan ook nie onthou dat dit doodsonde sou wees as hulle ’n biertjie of twee teen die dors hier langs die dammetjie nuttig nie. Net so lank jy dit nie in die kuierplek, soos ons watergat, doen nie, sê Gert. Ja, jy mag daar loop aansit en vreet dat die spoeg spat, solank jy nie ’n wyntjie of iets dergeliks saam geniet nie – presies daar waar hulle ingerig is om dit te bedien.

Nou dat Gert so oor die bruisdrankies praat, sê Grootpiet, is daar tog iets wat hom skielik hinder. Groothoed se manne kan ’n ou ook mos in hierdie droewige dae vastrap en selle toe vat as jy enige drank sterker as water vervoer?

Nou, hierdie koelhoukassie tussen hulle met die nodige koelhou-vloeistof daarin, sê Grootpiet, het hulle mos soort van vanaf die opstal tot hier by die dam ‘vervoer’ en maak dit nie ook van hulle misdadige, ongehoorsames nie?

Ja, kan seker wees, sê Gert. As een van die manne nou hier aankom – jy weet nooit – dan sê ons maar die kassie het ons al lank voor Kersfees hier kom bêre, want ek wat Gert Mossie is, stam mos uit ’n lang lyn van sieners af . . .

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger