Metgesel verjaar behoorlik by opgeknapte ou stasieplek Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 22 January 2021 13:30
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Laat in Desember verjaar Metgesel. Elke jaar. Vanjaar het ons nie agterent loop skuur nie. Dis tuisbly se verjaarkar en die uwe besluit ’n bietjie bederf sou gepas en welverdiend wees.

Nou is Metgesel (met permissie gesê) nie ’n koek-mens nie, maar veel eerder ’n tert-mens. Iewers het ek gehoor dat die nuwe eienaars van die opgeknapte kuierplek by Cullinan se geskiedkundige ou stasiegebou en -perron, pekanneut-tert (wonder tog hoekom die Engelse dit ’n paai noem) maak en dit is Metgesel se gunsteling.

Daarom bestel ek by die gawe mense van die nuwe Station Diner ’n spesiale verjaardag-tert van die pekanneut-aard en ons besluit ook om sommer vir die verjaarsmiddag-kuier daar te loop aansit. Deur die jare heen en met die verloop van etlike vorige eienaars, het ons dit telkens geniet om by dié unieke kuierplek aan te doen.


’n Bord met hemelse groente vir die Metgesel wat verjaar

Metgesel se verjaardagtert, dien vermeld te word, was bykans oordadig met die lekkerte oorlaai en ’n dekadente plesier was dit om stuksgewys aan die heerlikheid te help smul.

Baie moeite is gedoen om die nuwe Station Diner by die ou stasie op te knap en besoekers-vriendelik te maak. Ons neem plaas by ’n tafeltjie buite op die onderdak-perron en dis dadelik duidelik dat iemand ‘uitgepraat’ het oor Metgesel se verjaardag. ’n Yslike wortelkoek-kolwyntjie met brandende kersie op en al, word voor haar neergesit.  

Gelukkig val ons besoek binne in die mag-maar-drink-tyd en dié stasieplek het die nodige lisensie in plek. ’n Duitse bruisdrankie vir my en ’n koue, ‘brutale’ vrugtesoortige een vir Metgesel. Dis ’n warm dag. ’n Fynsproei-toestel verkoel die perron met (water, net om verwarring te voorkom) mis. Hier en daar sit mense met gemaskerde kenne gesellig en kuier op die perron.

’n Baie vriendelike kelnerin bring die verversings saam met die spyskaarte aan. Die spyskaart is redelik lywig en baie netjies. Dit word duidelik uitgespel dat veranderings dikwels aan die inhoud aangebring word en spesiale geregte gereeld aangebied word.


Beesstert met groente en slaai

Ontbyt wissel tussen R45 vir die ‘Miner’s Breakfast’ (twee eiers, twee repies spek, gebraaide tamatie, roosterbrood en konfyt) tot die allemintige ‘Locomotive Breakfast’ met alles wat ’n Engelse ontbyt wil hê en nog wat teen R98. Teen skuins oor die R40 kan jy ook hoenderlewers, skyfies en roosterbrood of maalvleis op roosterbrood met ’n eier en kaas geniet.

Plek word ingeruim vir ’n spesiale kleingoed-spyskaart en ’n groot verskeidenheid geroosterde broodjies waar ’n besoeker ook sy eie broodjie kan ‘bou’ deur uit ’n 15-stuks bestanddele te kies. Die spek, eier, kaas en tamatie roosterbroodjie kos R59.

Onder die hofie ‘Munchies’ is nogal ’n wye keuse. Hoenderpastei met botterskorsie en slaai lyk vir my teen R65 na ’n winskoop. Boerewors-broodjie (R65), Quiche (R55), drie soorte ‘wraps’, slaaie en nog wat word ook hier gelys.

Vier burger-verbuigings (tussen R89 en R125) en ’n goeie 15 soorte pizzas wat wissel tussen R69 en R149 vir die groot pizzas van 30 cm kan jy by die Station Diner geniet. Biefstuk saam met skyfies of slaai of groente is T-been teen R165 vir 500 g, kruisskyf teen R149 vir 300 g en lendeskyf (sirloin) teen R139 vir 200 g. Hier kan jy ’n sous teen R18 ekstra kies.

’n Hele bek vol keuses van soetgoed is beskikbaar waaronder roomyse, melkskommels, koeke en terte en ja, ook pekanneut-tert (sq) tel.

Ons kyk na die keuses onder ‘Cooked Meals’ en Metgesel kyk nie eintlik verder as die groentesoorte wat teen R20 per porsie beskikbaar is nie. Sy het lankal lus vir ’n verskeidenheid gekookte groentes.


Die nuwe opgeknapte kuierplek by die ou stasie op Cullinan

Net dit en basta. Dis haar verjaardag en wie is ek dan nou om te stry? Metgesel kies ’n bord met spinasie, soetpatats, groenboontjies, roerbraai-kool, wortels en gekookte beet. Teen R20 per porsie (baie billike porsies) kos haar verjaardagmaal presies R120. Lanklaas het sy ’n aangenamer middagmaal geniet, moet jy glo.

Ek twyfel vir ’n sekonde tussen die beesbredie met rys en een groentesoort (R85) en die beesstert met rys en twee soorte groente. Ek kies die beesstert (R150) en later is ek effe teleurgesteld oor my besluit. Die groentes, groenboontjies en patats en rys was heerlik. Die stert was, hoewel redelik sag, erg droog en effe skraps. Maar beesstert in enige formaat het nog daardie onmiskenbare smaak wat my geval en ek geniet des ondanks.

Ons het ’n gawe kuier op Metgesel se verjaardag by dié Station Diner met sy uitsonderlike atmosfeer ingewerk. Skakel 081-584-3843 vir meer inligting.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger