Dit is moeilik om die grootkoningriethaan met sy syagtige persblou verekleed en metaalglans op die keel en bors mis te kyk. Boonop gee sy snaakse driehoekige snawel, wat soos ’n rooi skild tot bo op sy kop strek, en sy bloedrooi oë hom ’n voorkoms wat ’n mens nie gou vergeet nie.
Die grootkoningriethaan, Porphyrio madagascariensis, is 38–50 cm groot met ʼn vlerkspan van 90–100 cm en weeg 725–870 gram. Daar is 13 subspesies, wat variasies in kleur en grootte toon, maar hulle almal voer op ’n vreemde manier deur hulle lang tone te gebruik.
Die voer word meestal met die regterbeen opgetel en die items word tussen die tone vasgehou. As ’n stukkie voer val, word dit weer met die tone opgetel, in plaas van die snawel. Stukke van wortels wat moeilik is om so op te tel word met die tone vasgedruk en met die snawel in stukke geskeur.
Die grootkoningriethaan styg op uit die water
Foto: Derek Keats op Wikimedia
Kuikens word met rietsap gevoer deur volwassenes wat die rietstamme met die snawel afskeur en vir die kleintjies met die tone aangee, soos ’n papegaai sal doen. Riethane is omnivore, maar vreet meestal plantmateriaal. Hulle sal ook eiers, visse en paddas verorber en is aasvreters.
Dié watervoël word naby varswater- of brakdamme, moerasse of stadigvloeiende riviere gevind waar hulle meer gereeld gehoor as gesien word. Hulle maak verskeie geluide, baie kere in die nag, uit wegkruipplekke in digte plantegroei. Daar is ’n huilende geluid wat al hoe harder word, terwyl ander roepe korter is.
Wanneer die voël opstyg, maak hy ’n roepgeluid wat amper soos ’n klein trompet klink. Hy vlieg met hangende bene en kan lang afstande vlieg, alhoewel sy vlug nie baie elegant lyk nie. Dié voël is ook ’n goeie swemmer, veral vir een wat nie gewebde tone het nie.
Die eiers het pers en bruin spikkels
Foto: Wikipedia
Die grootkoningriethaan is een van die twee subspesies wat net een maat vir ’n leeftyd kies. Die ander subspesies leef in groepe waar die wyfies eiers in ’n gemeenskaplike nes lê. Ons ou grote en sy wyfie, wat eners lyk, bou ’n drywende nes wat in digte riete in vlak water weggesteek is.
Die nes is ’n platform met droë takke aan die onderkant, bedek met groot blare en ’n tonnel, wat van waterplante se blare gemaak is, bo-op. Daar is altyd twee toegangsroetes tot die nes.
Die eiers is redelik groot met ’n ligte dop wat pers en bruin spikkels op het. Die kuikens broei ná 25 dae uit en verlaat die nes vier tot vyf dae ná hulle uitgebroei het. Hulle word deur albei ouers gevoer.
Die kuikens is met swart donsies bedek, maar hulle bene is klaar rooi met die kenmerkende lang tone. Hulle eerste vere verskyn redelik gou, maar is dan nog dowwer as dié van volwassenes. |