Man sterf ná ses-ure se soektog vir hospitaalbed Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 22 January 2021 13:21
Untitled Document

Nico Scheepers van Six Fountains-landgoed in die Silver Lakes-omgewing is op 1 Januarie aan Covid-19 dood ná hy vir bykans ses ure in ’n ambulans rondgery is op soek na ’n hospitaal met plek om hom op te neem.

Sy lewensmaat, Monia Vermaak, het saam in die ambulans deur Pretoria se strate gery en sy sê dat hulle by verskeie hospitale weggewys is oor ’n tekort aan beddens.

Monia vertel dat Nico op 22 Desember positief vir Covid-19 getoets het en dat hulle tuis in isolasie gebly het. Die 56-jarige Nico het sieker geword en Monia het op 31 Desember ’n ambulans gebel. Hy kon nie toe opgeneem word nie, omdat sy lewensfunksies nog goed gelyk het.

Dit was egter ’n heeltemal ander storie die volgende oggend toe Monia hom op die vloer gekry het waar hy ineengestort het. Sy kon hom nie optel nie en het net ná 7 vm vir ER24 gebel. Monia sê dat ’n ambulans nie dadelik beskikbaar was nie en Nico is net ná 10 vm by die huis opgelaai.


Nico Scheepers
Foto: Facebook

So het Nico en Monia ure lank agter in die ambulans spandeer terwyl die ambulansbestuurder ’n beskikbare hospitaalbed soek. Dié bestuurder het later ’n oproep gekry om te sê dat ’n bed by Netcare Pretoria Oos-hospitaal beskikbaar geraak het. Nico is dadelik na die trauma-eenheid in dié hospitaal geneem, maar Monia sê dat dit reeds te laat was. Hy is ongeveer 4.30 nm oorlede.

ER24 woordvoerder, Russel Meiring, het die insident aan die media bevestig. Pretoriase paramedici berig dat hulle hul hande vol het. Tanyaradzwa Muranda van Redi Cure Emergency Medical Services het gesê dat die gemiddelde oorhandiging van paramedici na hospitaalpersoneel gewoonlik 15 tot 20 minute geneem het, maar nou twee tot vier ure kan neem.

Volgens Monia het Nico geen bestaande siektetoestande gehad nie, behalwe matige gewrigsrumatiek. Hy was vir amper 20 jaar ’n spin-instrukteur by verskeie gimnasiums.

Nico was ’n dosent aan die Universiteit van Pretoria met sy eie hipnoterapie praktyk. Hy laat drie dogters agter.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger