‘n Geslag van kluisenaars straks gekweek Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 22 January 2021 13:18
Untitled Document

Die alarmklokke lui reeds lankal oor die menslike reaksie op grendeltyd. Die kenners sê dat selfmoordpogings toegeneem het en dat angs en depressie nou so algemeen soos ’n hoofpyn is.

“Ons maatskaplike werkers was vanjaar besiger as ooit met ondersteuning vir ’n groot verskeidenheid probleme,” sê Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng Oos.

Maande van isolasie het almal met ’n negatiewe kwas geverf en daar word bespiegel oor die langtermyn sielkundige uitwerkings wat ons te wagte kan wees. Wie weet wat dié generasie, veral die jongeres, met hulle gaan saamneem in wat nou ’n onsekere toekoms blyk te wees?

Henda sê een van die moontlike resultate, wat nog nie wyd bespreek is nie, is dat ons ’n generasie kweek wat meer op aanlyn kontak steun as om mekaar van aangesig tot aangesig te sien: Onthouerspersoonlikhede.


Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng Oos

“Gedragspatrone soos hierdie sal eers baie later manifesteer, wanneer die kinders volwassenheid bereik, en daar sal dan teruggewys kan word na die pandemie as een van die oorsake,” sê sy.

’n Mens met vermydende gedrag word deur ’n konsekwente patroon van sosiale inhibisie gekenmerk. Dit kom na vore deur weg te skram van kontaksituasies in die werkplek of op sosiale vlak weens vrees vir verwerping, kritiek of teenstand.

Henda sê dat mense wat in isolasie is nie die vaardighede om daaglikse situasies die hoof te bied, aanleer nie. Hulle sal geneig wees om te onttrek en geïnhibeerd te wees in alle omstandighede, om oorsensitief te wees vir kritiek, om van menslike kontak weg te skram en om ’n lae selfbeeld te hê.

“Baie meer behoort gedoen te word om hierdie moontlike effekte reeds nou aan te spreek.

Onderwysers veral, kan ’n bepalende rol speel om dit te beïnvloed,” sê sy.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger