Dit is jou keuse Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 22 January 2021 13:17
Untitled Document

Jy het ’n keuse. Ja, 2021 se pad waarop ons reeds die eerste aantal treë gestap het, gaan nie noodwendig altyd maklik wees nie. Vir sommige selfs veel moeiliker as vir ander, maar die meeste van ons staan tog voor ’n keuse:

Jy kan die uitdaging van ’n jaar wat in buitengewone omstandighede begin met hoop aanpak; uitsien daarna om oplossings te vind vir die probleme wat dit bring en met geesdrif en in geloof jou beste gee om suksesvol voort te woeker. Òf jy kan hande in die lug gooi en opgee: Handdoek ingooi en in wanhoop, vrees en selfs woede voort ploeter. Jy het ’n keuse.

Ons hier by die Bronnie se keuse val vierkantig op die eersgenoemde opsie en ons weet uit ervaring dat by verre die groter aantal van ons lesers en adverteerders wat ons oor meer as 18 jaar leer ken het, ook hierdie jaar met hoop en vertroue sal aanpak.

Ons harte bloei vir sommige van ons adverteerders en lesers wat nie direk net weens die ‘pandemie’ negatief beïnvloed word nie, maar ook deur oënskynlik ondeurdagte, sinnelose en duistere besluite deur ’n owerheid waar almal noodwendig oor dieselfde kam geskeer word, tot moontlike voordeel vir net sommiges.

Gepraat van keuses: Die Bronberger stap hierdie jaar met vertroue en dankbaarheid binne in die wete dat ons lesers deesdae op drie maniere volledige toegang tot hulle tydskrif kan kry en kan kies op welke wyse hulle dit wil lees en geniet.

Ons gaan steeds by die gewone verspreidingspunte in ons kontrei as glanstydskrif en steeds gratis beskikbaar wees. Dan het ons databasis van lesers wat verkies om die Bronnie elektronies per e-pos of WhatsApp te ontvang oor die afgelope maande geweldig gegroei.

Adverteerders wat verkies om in die gebied se gunsteling gemeenskaptydskrif te adverteer, kan voordeel trek uit ’n groot en heel nuwe leserskorps met die wete dat dié lesers wat oor 18 jaar heen geesdriftig hulle Bronnie op glanspapier ontvang het, dit steeds só kan kry.

Ons sien uit na die uitdagings wat 2021 bring. Ons simpatie en meelewing vir diegene wat swaar trek en wat direk geraak word en selfs geliefdes verloor weens die virus, is opreg.

Opreg ook is ons wense en bede dat die regte keuses gemaak sal word en dat volharding en hoop voorspoed ook in Bronbergland sal bring.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger