Moord bly moord al is dit wraak PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 21 September 2009 13:44

Dr Breytie Breytenbach skryf namens die Meerkat-en Doodlooppad-inwoners:
Tydens die maandelikse vergadering van die Meerkat- en Doodlooppad se inwoners, is beswaar gemaak teen die moontlike verskraling van die impak wat gewapende aanvalle het. Hierdie verskraling kan maklik plaasvind as die gedagte onder die publiek versprei word dat elke aanval ’n sogenaamde wraakaanval is.

’n Wraakaanvaal blyk die definisie te wees van ’n aanval wat uitgevoer word deur ’n gegriefde werker. Lede van die algemene publiek moet bewus gemaak word van die feit dat ’n werker gegrief kan voel selfs al is hy/sy ontslaan volgens die voorgeskrewe prosedure en met die gepaardgaande “goue handdruk”, wat dikwels glad nie in lyn is met die soort diens wat deur die betrokke werker gelewer is nie.

Veel eerder het ons te doen met barbaristiese moordenaars wat skynbaar glo hulle kan hulle woede ontlaai deur ander se lewens te neem. Ongeag die agtergrond van die saak, moord bly moord en marteling bly barbaars. Ons moet waak daarteen dat ons so gewoond raak aan misdaad dat die persepsie ontstaan dat sekere misdaad geregverdig kan word. Ons moet ook waak daarteen dat ons al meer vir onsself sien as slagoffers van barbare of van ’n onregverdige stelsel.

Daar is beskaafde maniere waarop ons misdaad kan voorkom. Nooit, maar nooit moet ons aanvaar dat ons sonder hoop uitgelewer is aan die redelose (dis allermins dierlik), brutale en primitiewe versugtinge van ’n klein groepie misdadigers nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger