Wegbreekkans in en om Pretoria in tuisblytye Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 04 December 2020 16:04
Untitled Document

Die Desember-vakansie is hier, maar die Covid-krisis het soveel mense platsak gelaat dat ’n rekordgetal vakansiegangers vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie ry. Die groot verskeidenheid openbare reservate in en om Pretoria bied ’n wonderlike bekostigbare manier om die natuur en dierelewe as dagbesoeker of oornaggas te ervaar.

Bronkhorstspruitdam Natuurreservaat

Die Bronkhorstspruitdam Natuurreservaat is gewild onder vissermanne, so naweke en vakansiedae kan baie besig wees. Tog is daar baie watervoëls te siene en ’n voëlskuiling naby die ingangshek van waar ’n mens enige plek in die reservaat per voet kan bereik. Die reservaat bied ’n verskeidenheid kampeerplekke langs die oewer met ablusie- en braaigeriewe. Dit is uit met die N4-Oos snelweg. Neem die afrit na die Bronkhorstspruit-Bapsfontein-pad (R25)/Kemptonpark-pad. Bel Andrew Sibonyoni by 071-671-8605.

Voortrekker Monument-natuurreservaat

Die Voortrekkermonument is op ’n koppie binne-in ’n 340 hektaar grootte natuurreservaat. Daar is ’n verskeidenheid fietsry-, stap-, draf- en perdryroetes, maar minder aktiewe mense kan ook self deur die reservaat ry. Diere wat gesien kan word strek van sebras, wildebeeste en verskeie bokspesies, sowel as kleiner diere soos muishonde, ystervarke en krimpvarkies. Vanaf die Ben Schoeman-snelweg draai jy met afrit 335 na die M7/Eeufeesweg in Pretoria se rigting. Draai links in Eeufeesweg en regs in Monumentstraat. Skakel 012-326-6770 of stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Rietvlei Natuurreservaat

Rietvlei Natuurreservaat is in 1948 geproklameer en bestaan uit 3 800 ha Bankeveld vanaf die dam oor vlaktes, heuwels, vleie en stroompies. Jagluiperds, buffels, elande, renosters, waterbokke, sebras en swartwildebeeste is van die wildspesies in die reservaat. Hier kan jy in ’n oornag-hut bly, kampeer of piekniek hou by die dam met sy verskeidenheid watervoëls. Jy kan vir nagritte gaan, op perdryroetes, op ’n 10 km dagstaproete of ’n 21 km roete waar jy deur natuurbewaarders vergesel word. Visvang word op die noordelike en westelike oewer toegelaat en daar is ’n seilklubhuis op die noord-westelike oewer. Rietvlei is uit met die Delmas-pad, naby die Nellmapius/R21 kruising. Skakel 012-358-1810/1/2 of stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Wonderboom Natuurreservaat

Die 200 hektaar grootte Wonderboom Natuurreservaat is beroemd vir sy wildevy, Ficus salicifolia, wat die Wonderboom genoem word. Die boom is ouer as duisend jaar en was eens groot genoeg sodat ’n duisend mense gelyk onder sy skadu kon inpas. Die reservaat bied staproetes met asemrowende uitsigte en spog ook met ystertydperk- en steentydperk-terreine. Diegene wat in geskiedenis belangstel kan ook die fort uit die 1800’s bo-op die Magaliesberg besoek. As jy rigting noord uit die stad uit ry met Paul Krugerstraat, gaan die pad deur ’n poort in die Magaliesberg. Draai regs op die M1. Die ingang is omtrent 300 meter vanaf die R101. Skakel 012-358-1792 of stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Groenkloof Natuurreservaat

Die Groenkloof Natuurreservaat bied ’n verskeidenheid aktiwiteite vir die hele gesin. Daar is drie fietsry- en staproetes en stappers kan selfs ’n oornaghut bespreek. Kinders kan ook ponieritte of perdryroetes ervaar. Daar is piekniekplekke te huur. Wild strek van kameelperde, rooibokke, koedoes, volstruise en sebras tot rooihartebeeste en blouwildebeeste sowel as ’n wye verskeidenheid voëls. Die reservaat is in Christina De Witlaan. Skakel 012-358-1757/3 of 065-314-1295 of stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Dinokeng Groot Vyf-reservaat 

By die Dinokeng Groot Vyf-reservaat kan jy nie net op wildritte gaan nie, daar is ook bootritte, kleiduifskiet, boogskiet, visvang, staproetes, perdry, lugballonritte, ‘paintball’, skubaduik, wynproe, restaurante en pieknieks. Daar is ’n verskeidenheid oornag-geriewe, vanaf kampering tot vier en vyfster verblyf in dié reservaat noord-wes van Cullinan. Dié 18 500 ha reservaat bestaan uit individuele stukke grond in private besit. Dié wildtuin het vyf toegangshekke. Die hoofhek, Boekenhoutkloofhek, word soos volg bereik: Vanaf die N1 noord, neem die Boekenhoutkloof / Hammanskraal afrit. Draai regs oor die snelweg en volg die aanwysingsbordjies. Skakel 012-711-4391, stuur ’n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.dinokengreserve.co.za.

Klapperkop Natuurreservaat

As jy op soek is na ’n pragtige uitsig oor Pretoria, is die Klapperkop Natuurreservaat ’n goeie keuse. Die reservaat is gewild onder fietsryers of diegene wat vir ’n luilekker Sondagagtermiddag rondry-uitstappie wil gaan. ’n Mens ry met ’n teerpad tot by Fort Klapperkop, gebou in 1897, bo-op die berg. Langs die pad sien jy sebras, blouwildebeeste, rooihartebeeste en kleiner diere. Die natuurreservaat is 460 hektaar groot en word deur die Departement van Natuurbewaring bestuur. Die reservaat is vernoem na die prominente Klapperkop, ’n kop bedek met klapperbome aan sy noordelike hange. Die ingang is uit Johann Rissikrylaan, Groenkloof. Skakel die fort by 012-341-0591 of die reservaat by 012-346-7703.

Moreletakloof Natuurreservaat

Die Moreletakloof Natuurreservaat is op die melkplaas wat Jacobus en Cornelia Erasmus in die vroeë 1800’s besit het. In 1877 het Carel Erasmus die plaas gekoop en ’n drie-slaapkamer huis, wat vandag die kapel is, gebou. Sy skoonseun, Johan Marneweck, het in 1903 die huis, wat vandag ’n restaurant is, gebou. Moreletakloof bied ’n netwerk staproetes van ongeveer 7,5 km. Die Rademeyer is 1,57 km lank, die duiker is 2,89 km en suikerbos is 3,32 km. Daar is ’n verskeidenheid voëlspesies en wild soos springbokke, blesbokke, rooibokke en sebras. Uit Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) draai in Rubensteinrylaan en links in Heliosstraat, waar parkering beskikbaar is. Skakel Vriende van Moreletakloof se Jeannie du Plessis by 082-927-4673.

Tswaing Natuurreservaat

Ongeveer 220 000 jaar gelede het ’n meteoriet die aarde by Tswaing getref en ’n krater van 1,4 km in deursnee en 200 meter diep agtergelaat. Dié krater is vandag met water gevul en is een van die bes-bewaarde meteoriet impakkraters in die wêreld. Die krater vorm deel van ’n vleiland-ekostelsel met ’n groot verskeidenheid plant- en voëlspesies en ’n paar wilde diere. Daar is ’n 7,2 km sirkelvormige staproete rondom die krater. Ry uit met die R35, noord van Pretoria en draai af by Soutpanweg. Skakel 076-945-5911, 012-000-0041 of 076-945-5911of stuur ’n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Faerie Glen Natuurreservaat

Die 128 ha Faerie Glen Natuurreservaat is rondom die Rhenosterkop gedeelte van die Bronbergrif geleë. Hier is ’n verskeidenheid kleiner soogdiere soos kleinkolmuskeljaatkatte, muishonde, groototters, hase en krimpvarkies, groter diere soos sebras en bokke en ’n groot verskeidenheid voëlsoorte. Daar is drie wandelroetes: Hadida is 2,3 km lank, Akasia is 3,2 km lank en Kiepersol is 4,2 km lank. Die veld is tipies van ’n oorgangsone tussen Bankeveld, suur gemengde bosveld en Akasia-veld. Die reservaat is oop van 6 vm tot 6 nm en besprekings is slegs nodig vir begeleide staptogte. Die ingang is uit Louis Botharylaan. Bel Louise Kritzinger, voorsitter van Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat, by 072-275-0614 of stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2024 Die/The Bronberger