Terugploeg spreek hongersnood só aan Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 04 December 2020 15:57
Untitled Document

Agt hektaar grond naby die Rayton-Cullinan-afrit van die N4-Oos-snelweg, word nou die hoofkantoor vir Terugploeg, ’n liefdadigheidsprojek wat in die Covid-19 tydperk ontstaan het om na honger mense om te sien.

Daar gaan kosverwerkingsgeriewe en ’n koelstoor wees en ’n vrugte- en groentetuin, klerebank en ’n plek waar braaihout gesny en verpak word vir verkope. Dié grond is deur Faan en Dirk van der Walt, stigters van WeBuyCars, gratis aan Terugploeg beskikbaar gestel.

Terugploeg is op 17 November in die Atterbury-teater bekendgestel in samewerking met GrootFM 90.5. Die bekendstelling is deur ongeveer 200 kommersiële boere, sakelui en potensiële skenkers bygewoon.

Bouwerk aan nuwe geriewe op die perseel gaan in Januarie volgende jaar begin en die opening word vir Mei 2021 beplan. ’n Lesingsaal gaan in die gebou ingerig word waar praatjies en kursusse aangebied gaan word om praktiese raad en opleiding te bied sodat mense hulle eie omstandighede kan verbeter.

Daar gaan ook werkgeleenthede wees vir mense om kos wat geskenk is te verwerk, tuine te versorg, klere-skenkings uit te sorteer, te was en stryk en vragte hout te verpak.


Voor: Mariaan Keulder, links; en Zahn Hulme, regs. Agter van links na regs: Vasti Kirchner; Leonie du Preez; Jani Doms, Ananja Koen; Herman Marx; Lood Bester; en Louis van der Watt
Foto: Verskaf

Lood Bester, medestigter van Terugploeg, sê die konsep het ontstaan in gesprekke tussen hom en sy vriend, Herman Marx van Vibro Bricks, toe hulle in die begin van inperking bewus geraak het van die enorme voedselnood in sekere Afrikaanssprekende gemeenskappe en dat daar vir hulle geen hulp beskikbaar gestel is nie.

Lood en Herman het aanvanklik self kos aangekoop en in die gemeenskappe versprei. Later het hulle by boere gaan aanklop en dan een van Herman se trokke plase toe gestuur om met groente of vrugte volgelaai te word. Dié kos is by Vibro Bricks in Pretoria afgelaai en dan in kleiner porsies verdeel. Daarna is dit in bakkies gelaai en by kinderhuise, ouetehuise en skole uitgedeel.

Ongeveer ’n maand ná Lood en Herman hiermee begin het, het hulle met Louis van der Watt, hoof uitvoerende beampte van die Atterbury Groep, ooreengekom om Terugploeg vanuit Atterbury Trust te bestuur.

Dit het gou duidelik geword dat Terugploeg ’n maklik toeganklike en goed toegeruste perseel nodig het sodat hulle groot hoeveelhede kos op een slag kan ontvang, verwerk en berg. Faan en Dirk van der Walt het in daardie stadium na vore gekom om die grond gratis beskikbaar te stel.

Skenkings van konstruksiemateriaal vir die oprig van die Terugploeg-gebou is welkom. Dit sluit skenkings van sement, bakstene, matte, roldeure, lugversorgers, kombuistoerusting en vleisverwerkingsmasjinerie in.

Vir meer inligting, bel Lood Bester by 082-925-1118 of Jani Doms by 076-313-7212 of stuur ’n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger