Twee plaasaanvalle in gebied eis lewens Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 04 December 2020 15:56
Untitled Document

’n Gewapende huisroof op Mooiplaats het die lewe van Anton Kleyn geëis. Anton is in die vroeë oggendure van 24 November, omstreeks 1:15 vm, in die bors geskiet en is op die toneel dood verklaar.

’n Vriend van hom wat op die kleinhoewe gekuier het, Aubrey du Plessis, is in die lies geskiet en het teen die Bronnie se saktyd in die hospitaal aangesterk.

Polisiewoordvoerder, kaptein Kay Makhubela, het gesê die voorlopige ondersoek dui daarop dat die mans deur die venster van Anton se houthuis op die kleinhoewe geskiet is.


Anton Kleyn
Foto’s: Verskaf

Die 61-jarige Anton het jare lank saam met sy broer, Louis Kleyn, op die kleinhoewe geboer, eers met beeste en later het hulle kitsgras begin kweek, voor hy onlangs in sy houthuis op die hoewe afgetree het.

Die verdagtes is met albei mans se selfone, ’n ou televisiestel en DVD-speler daar weg. ’n Saak van moord en poging tot moord word ondersoek.

In ’n voorval op 21 November het ’n boer in die Boschkop-gebied, wat nie geïdentifiseer wil word nie, ’n plaasaanvaller doodgeskiet ná hy eers waarskuwingskote gevuur het.


Die venster waardeur Anton en Aubrey geskiet is

Die huisalarm het ongeveer 9 nm afgegaan. Toe die boer gaan ondersoek instel, het hy glo drie mans gesien wat by sy huis inbreek. Hy het op hulle geskreeu en het toe ’n paar waarskuwingskote afgevuur en sy bure vir hulp geroep. Die lyk van ’n onbekende man is gevind toe die bure opgedaag het.

Die boer en sy vrou is in Julie ook aangeval. Skote is toe deur hulle slaapkamerdeur afgevuur terwyl hulle in die badkamer geskuil het. Items is uit die huis gesteel.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger