Baie wag magteloos en alleen in hospitale Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 04 December 2020 15:54
Untitled Document

Met die Covid-pandemie is derduisende mense se operasies uitgestel en diegene wat wel in hospitale opgeneem is, moes daarmee verlief neem dat hulle naasbestaandes hulle nie mag besoek nie.

Die hoof van die Gautengse Ortopediese Vereniging, dr Anton Julyan wat by die Netcare Pretoria-Oos Hospitaal praktiseer, vertel dat hy ongeveer 60 operasies aan die einde van Maart moes uitstel.

Hy het weer in die middel van Mei begin opereer omdat mense in pyn was en dringende hulp nodig gehad het. Dr Julyan verduidelik dat operasies wat langer as drie maande uitgestel word, sommige patologieë kan vererger en mense se gesondheid ernstig in gevaar kan stel.

Een so ’n geval was dié van Talita Hamers, ’n 35-jarige ma van twee jong kinders wat in die grendeltyd simptome soos ernstige hoofpyne, vergeetagtigheid, gebrek aan konsentrasie en erge angs ervaar het.


Die 35-jarige Talita Hamers by haar man, Michael, en die vyfjarige Leah en tweejarige Chloé

Gewas
Sy het besluit om ’n dokter te gaan sien en in Julie het dr Schalk Burger, ’n neurosjirurg by Pretoria-Oos, haar met ’n nie-kwaadaardige gewas gediagnoseer. Dié gewas se konstante groei was letterlik besig om haar dood te maak, al was dit nie kwaadaardig nie.

Talita sê dat sy gekies het om die gewas in die hoogtepunt van die pandemie te laat verwyder omdat sy die ding uit haar kop wou hê al moes sy alleen in die gang af stap teater toe.

Sy vertel dat niemand by haar in die hospitaal kon gaan kuier nie, maar dat die personeel “haar mense” geword het. “Aan die einde van my tyd in die hospitaal het ek 50 Lindt-sjokolades gekoop om vir almal te gee wat my so gehelp het,” sê Talita.

Pynlik
Nog een van dr Burger se pasiënte in dié tyd was die 46-jarige Marisa Frouws wat dringende hulp moes kry toe sy in die Covid-tyd pynlike simptome begin ervaar het. Dit het gestrek van iets wat soos elektriese skokke aan die regterkant van haar gesig gevoel het tot algemene pyn in haar gesig wat deur enige iets geaktiveer kon word, van praat tot tandeborsel, grimering aansit, eet of selfs die wind wat in haar gesig waai.

Marisa erken dat sy bekommerd was om in dié pandemie-tyd hospitaal toe te gaan, maar sy kon nie met die pyn saamleef nie en het nie meer op medikasie en ander terapieë reageer nie.

Marisa het in September ’n prosedure, genaamd Janetta, ondergaan vir die mikrovaskulêre dekompressie van die trigeminale senuwee. Haar man kon haar nie besoek nie en terwyl sy vir amper vier dae in intensiewesorg was, het dr Burger elke dag sy selfoon vir haar gegee sodat sy met haar man kon praat.


Die 46-jarige Marisa Frouws
Foto’s: Verskaf

Selfoon
Dr Burger sê dat hy en al die ander dokters in dié pandemie-tyd met hulle selfone in plastiese sakkies rondgeloop het en aan pasiënte geleen het sodat hulle met geliefdes in aanraking kon bly.

Hy sê dat dit baie moeilik is vir pasiënte as geliefdes hulle nie mag besoek nie en dat pasiënte, behalwe vir mediese sorg, ook gerusstelling nodig het – veral aanraking is baie belangrik. Dr Burger verduidelik dat mediese ondersteuningspersoneel almal ekstra opleiding gekry het om hulle kommunikasievaardighede te verhoog en om meelewing uit te leef.

Dit is in hospitale waar van die belangrikste oomblikke in mense se lewens afspeel – soos die geboorte van ’n baba en waar lewensreddende prosedures uitgevoer word. In dié oomblikke, waar families die afgelope paar maande nie saam kon wees nie, moes hospitaalpersoneel soos nooit tevore nie, ondersteuningsrolle speel en ook seker maak dat tegnologie ingespan word om gesinne met mekaar in verbinding te hou.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger