Kersgety-marteling Print E-mail
News - Briewe
Friday, 04 December 2020 15:45
Untitled Document

Eus de Clerk van Cullinan:
In die Kersseisoen word daar by die meeste groot inkopiesentrums yslike stoele geplaas, waarop gehuurde Kersvaders hulle sit kry – kompleet met rooi EFF oorpakke, stewels, tosselrige-mussies op die koppe en vals baarde.

Terloops, ek kon nog nooit verstaan waarom dié Kersvaders heeltyd sulke: “Hou-hou-hou!” geluide maak nie. Wie of wat moet ge-hou word? Hoekom? Maar dit nou daar gelaat.
’n Paar jaar gelede, in die Kersseisoen, het die volgende toneel hom in ’n groot winkelsentrum in Pretoria afgespeel:

Moeders, met hulle snikkende kleuters se handjies styf in hulle eie vasgeklem, staan in ’n lang ry voor die stoel waarop ’n Kersvader sit en “Hou-hou-hou!” Hoe nader die huilende kleuters aan die voorpunt van die ry kom, hoe harder ween en weeklaag hulle.

Wanneer ’n moeder uiteindelik voor in die tou kom, voer sy ’n vernuftige raap-en-skraap beweging uit – amper soos ons Springbokrugbyspelers van ouds. Die kleinding word van die grond gelig en knaphandig op die Hou-hou-hou-man se skoot neergeplak.


Eus het Kersvader in sy baard laat huil

En dis nou waar die marteling begin! Die “Hou-hou-hou!” en Whaa! Whaa! Whaaa!” krete weergalm dwarsdeur die gebou. Die moeder van die arme gillende, skootsittende wesentjie, staan met ’n selfvoldane glimlag op haar gesig. Die ander moeders glimlag gemoedelik saam en hulle wagtende kindertjies snik en snuif en snuffel uit volle bors – wetende dat hulle beurt kom! 

Dis toe dat ek besluit: Genoeg is genoeg! Ek druk voor by die ry in en vra die Kersvader hoe oud hy is. “Ses-en-twintig, Oom,” sê hy saggies.

“Nou goed, Boetie, ek is 70 jaar oud. Kom sit jy’n bietjie op my skoot, en maak asof jy huil.”

Die jongman is ’n bok vir sports, en ons maak toe so. Die snikkende, snuiwende, traanbenatte kleuters in die tou het dit vreeslik geniet om te sien hoe Kersvader op my skoot sit en tjank, terwyl ek lekker sit en “Hou-hou-hou!”

Nodeloos om te sê: Die kinders was daarna nie meer bang vir hom nie.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger