Só het ‘n eiland-bewoner gehelp om Pretoria te bou Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 14 November 2020 08:31
Untitled Document

Angie Kleijn

Naby die Fonteinesirkel was eens in die 1800’s ‘n fabriek wat die bakstene en teëls vir baie van Pretoria se ou geboue gemaak het – van die Raadsaal, Ou Staatsmunt en die Nasionale Bank op Kerkplein tot die eerste gebou van die Landbank, die Sammy Marks-gebou en die Union Hotel.

Sir Herbert Baker het dié fabriek se produkte in die Uniegebou gebruik en ook in Suid-Afrika-huis in Londen. Vandag is die historiese ou fabriek afgebreek, die steengroef is opgevul en die sportgronde van die Universiteit van Pretoria se Opvoedkunde-fakulteit in Groenkloof is bo-oor dit gebou.


John Johnston Kirkness
Foto: aboutorkney.com

Die storie van dié fabriek is dié van ‘n Skot, John Johnston Kirkness, wat op 1 April 1857 op Vetquoy in Sandwick, deel van die Orkney-eilande, as die oudste seun van Thomas Kirkness en Mary, ‘n nooi Johnston, gebore is. Orkney is noord van die Caithness-kus en bestaan uit omtrent 70 eilande, waarvan 20 bewoon word.

John het in 1878 ‘n diploma in boukonstruksie aan die Heriot-Watt Kollege in Edinburgh verwerf en het die David Cousin-prys vir argitektuur gewen. Hy het sy vakleerlingskap in die skrynwerkersbedryf voltooi en sy eerste werk was as vakman in Glasgow. John is kort daarna, toe hy 22 jaar oud was, Suid-Afrika toe.


‘n John J Kirkness-advertensie in die ‘Lochhead's Guide, Handbook and Directory of Pretoria’, 1913
.

‘n Advertensie in ‘Merkel’,1952
Bron: William Martinson, ingedien by artefacts.co.za
.

Hy het in 1879 in Port Elizabeth geland en was eers in Durban en toe in Bethlehem, waar hy aan die Heilbron NG Kerk en verskeie brûe gewerk het. Dit was die tyd van die goudkoors en John is na die Barbertonse goudvelde, waar hy ‘n Engelse kerk, ‘n NG Kerk, die aandelebeurs, en die Lewis en Marks-gebou, die eerste twee-verdieping gebou in die dorp, opgerig het.


‘n Kaggel in een van die verlate huise op Unisa se Sunnyside-kampus. Die stene is waarskynlik
deur JJ Kirkness voorsien
Foto: Sue Jean Taylor

Ongeluk
‘n Skietwerk-ongeluk in daardie vroeë jare het sy regteroog erg beseer. John se broer, Thomas, het ‘n perd en karretjie gekoop om hom na sy plaas Koelfontein naby Ladysmith te neem. Ná 180 myl het John se oog so gepyn dat hulle op Newcastle moes stop, waar ‘n dokter die oog verwyder het.

John is in 1884, minus sy oog, terug na die Orkney-eilande waar hy op 16 Junie in Kirkwall met Mary Ann Baikie getroud is. Mary se pa, Samuel, word op die huweliksertifikaat as houthandelaar beskryf, maar hy was ook ‘n meesterbouer en sy firma, Samuel Baikie and Sons Ltd, het ‘n hele paar kerke, geboue en die stadsaal op dié eilande gebou.


‘n Advertensie in ‘SA Who’s Who’ van 1955
Bron: William Martinson, ingedien by artefacts.co.za

John het sy skoonpa se firma gebruik om die vensters vir die Kaapstadse stadsaal te verskaf en later die preekstoele en deure van verskeie kerke en kaggelrakke vir munisipale geboue in Pretoria.

John en Mary het in 1885 Pretoria toe getrek. Hier het hy so baie geboue opgerig, dat hy besluit het om sy eie baksteenfabriek aan te skaf. In 1888 het die firma wat Groenkloof Baksteen, Teël en Pottebakkerswerke (Groenkloof Brickfields) besit het, bankrot gespeel. John het oorgeneem en die plek na JJ Kirkness herdoop.


Die baksteenfabriek in 1940. Klapperkop is links agter en Skanskop is regs
Foto: Martin Gibbs

Sukses
Die steengroef, baksteenoonde en hulle swart gebrande skoorsteenstapels was waar George Storrarweg nou is, op pad na Fonteinesirkel. Onder John se eienaarskap het die baksteenwerke enorme sukses behaal. Daar is 50 miljoen bakstene ‘n jaar vervaardig, sowel as dak- en vloerteëls, dekoratiewe klei-elemente soos kolomme en vuurherde, landskap erdewerk en potwerk. Die plek het sy eie trein, spore en sylyne gehad.


‘n Kirkness-baksteen
Foto: William Martinson
.

‘n Kirkness-baksteen op Unisa se
Sunnyside-kampus
Foto: Sue Jean Taylor

Die maatskappy het later nog ‘n fabriek, ook in die Pretoria-distrik, met ‘n kapasiteit van 36 miljoen bakstene ‘n jaar, bedryf.

In 1889 het president Paul Kruger die hoeksteenlegging van die Ou Raadsaal gedoen en John het kort daarna begin bou. Weereens het al die deure en vensters vir dié gebou van sy skoonpa op die Orkney-eilande gekom.

Samuel Baikie se grootboek vir Maart 1890 wys vyf reuse buitedeure, vyf halfmaanvormige waaierligte en 96 binnedeure. Dié toebehore is per skip na Durban, per trein na Charlestown en die laaste 150 myl per ossewa na Pretoria vervoer.


John se vrou, Mary Ann Baikie (1859–1936)
Foto: JN Kirkness

Kirkness-gemerkte sierstene, dakteëls, vloerteëls en potte is dwarsoor die land, in aangrensende lande en oorsee gebruik. JJ Kirkness se hoofkantoor was op Kerkplein langs die Ou Nasionale Bank en Ou Staatsmunt in die twee-verdieping Bank van Afrika- of Kirkness-gebou, wat die Poskantoor-museum geword het.


‘n Advertensie in die ‘SA Architectural Record’ van Junie 1942
Bron: William Martinson, ingedien by artefacts.co.za

Bewaring
Later jare was John ‘n groot kampvegter vir die bewaring van Kerkplein en saam met die
destydse burgemeester, Johannes van Boeschoten, het hy in 1911 gesorg dat die trems nie oor Kerkplein loop nie, maar om dit. John was self in 1906 die vierde burgemeester van Pretoria en was vir baie jare ‘n stadsraadslid.


Die baksteenoonde en skoorsteenstapels van die ou fabriek
Foto: Universiteit van Pretoria

Hy was by verskeie instansies betrokke: Stigterslid van die Pretoriase Caledonian Society; aktiewe lid van die Pretoria-Klub; president van die Nasionale Meesterbouers Federasie; en voorsitter van Prisoniers-Hulp, Pretoria-Tak. Hy was die dryfkrag agter die Governor-Generals Fund in die Eerste Wêreldoorlog en die Britse troon het die OBE as erkenning aan hom toegeken.

John was ook verantwoordelik vir talle skenkings, soos die stene vir die bou van St Andrews Presbiteriaanse kerk in Schoemanstraat. In sy testament het hy ruim voorsiening gemaak vir dié kerk, die Presbiteriaanse Weeshuis, Pretoria Benevolent Society, die Princess Christian-huis en die Pretoriase Algemene Hospitaal.


John Johnston Kirkness
Foto: UP Akademiese Inligtingsdiens Tydskrifte

Baie plekke is na hom vernoem, soos ‘n straat naby Loftus Versfeld-stadion, een van die perke van die Caledoniese rolbalbane waar hy ‘n aktiewe rolbalspeler was, en een van die leeukampe in die Pretoriase Dieretuin as erkenning van sy geldelike steun om dit op te rig.


Kirkness-huis as die Belgiese Ambassade in Muckleneuk
Foto: Belgiese Ambassade

Herehuis
Die Kirkness-gesin, daar was twee seuns en een dogter, het in ‘n groot herehuis in Pomonastraat 255, Muckleneuk gewoon. John se standaarde was so hoog dat hy altyd gespog het dat sy huis ten volle uit verwerpte Kirkness-bakstene gebou is. Hy het die huis na sy geboorteplek, Vetquoy, genoem. Dit was later in besit van die Universiteit van Suid-Afrika.

John se seun, Tom, het in 1932, ‘n huis vir homself op die erf langsaan gebou. Altwee huise is dubbelverdieping, rooi Kirkness-baksteen huise met wit vensterrame en hortjies, balkonne en stoepe met pilare. Vandag is dié huise die tuiste van twee ambassades: Suid-Korea en België.

John se vrou, Mary, is op 20 April 1936 in die ouderdom van 77 jaar oorlede en John op 82-jarige ouderdom op 13 Junie 1939. Hulle lê begrawe in die Presbiteriaanse Akker in die Rebeccastraat-begraafplaas, Pretoria-Wes.


Links, John Niven Kirkness, seun van John Johnston Kirkness, by posmeester-generaal, WTB Ridgard, regs, met die onthulling van die brons gedenkplaat ter nagedagtenis aan John J Kirkness
Foto: Pretoria News

John Niven Kirkness, links, met die JJ Kirkness-dokumente se skenking in April 1991. Dr NA Coetzee, voorsitter van Genootskap Oud-Pretoria, sit regs
Foto: Johan Stander in ‘Beeld’, 25 April 1991

Die fabriek was tot die 1950’s werksaam. ‘n Paar weke voor sy dood het John se ander seun, John Niven Kirkness, historiese dokumente en foto’s, wat na 1882 terug dateer, aan die Pretoriase Historiese Vereniging: Genootskap Oud-Pretoria geskenk. In sy testament het hy ook R5 000 aan die vereniging geskenk.

John Niven was saam met sy pa ‘n vennoot in JJ Kirkness. Hy het sy laaste jare in Jacaranda Haven in Baileys Muckleneuk deurgebring en is op 10 Mei 1991 in die ouderdom van 91 jaar oorlede.


John Niven Kirkness, sittend, in Jacaranda Haven in April 1991 toe hy die dokumente aan dr NA Coetzee, voorsitter van Genootskap Oud-Pretoria geskenk het
Foto: ‘The Pretoria News’, 25 April 1991

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger