Duwweltjie dalk die doring wat horing kan red Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 14 November 2020 08:29
Untitled Document

Duwweltjie, duiweltjie, volstruisdoring, rankdubbeltjie, duifiedoring, driedoringdubbeltjie, hondedoring – as jy eers in hom getrap het, het jy waarskynlik ‘n beter woord as die vele terme waaronder dié doring bekend staan. En hy is nie eers ‘n uitheemse indringer nie.

Die duwweltjie, Tribulus terrestris L., is ‘n inheemse plant en is ook inheems aan suidelike Europa, alhoewel hy in Noord-Amerika ‘n indringerplant is.

Jy kry duwweltjies gewoonlik waar die veld uitgetrap of versteur is en hulle groei dikwels as onkruid in tuine. Hulle groei vinnig wanneer dit reën, maar verlep in die droogte en verlepte duwweltjies is die hoofoorsaak vir die metaboliese siekte, geeldikkop (Tribulus ovis) in skape. Geeldikkop lei tot ‘n verstopping van die galbuise en het ‘n impak op die skaap se lewer.


Die plant se geel blom

Medisinaal
Die duwweltjie is ‘n voedsame plant met askorbiensuur, wat baie vitamiene C bevat. Vee, wilde diere en veral hoenderagtige voëls vreet dit graag. Duwweltjies bevorder glo urinering en melkproduksie by jong moeders; werk diarree tee, help met ooginfeksies en keelseer, verlaag die bloeddruk en is bloedreinigend.

Kruiedokters vertel dat die plant al vir meer as 3 000 jaar medisinaal gebruik word en voorkom in twee van die oudste medisynes ter wêreld: Ayurveda en Sjinese medisyne, waar dit as ‘baijili’ of ‘cijili’ bekend staan.


Die groen vrug

Duwweltjies is tradisioneel gebruik om siektes van die lewer en niere te behandel, maar vandag het dié stekelrige plantjie glo ‘n reputasie ontwikkel as iets wat versterkte manlikheid bevorder. Hopelik vat die Sjinese nou ons duwweltjies en los die renosters uit.

In sportkringe is die plantjie goed bekend en baie omstrede omdat hy vir sy anaboliese steroïede-effek gebruik word om spiermassa te bou – iets wat glo nie in toetse raakgesien kan word nie. Die wetenskaplikes sê dat dié effekte glad nie in beheerde studies bewys is nie en dat toediening van die plant nie as veilig beskou kan word nie.


Die gedroogde dorings

Plant
Die duwweltjies is ’n eenjarige plant met ’n penwortel wat tot 1,5 m diep kan word. Hy is berug vir sy harde stekelrige vruggies, wat elk uit vyf dele met een saadjie daarin bestaan, en wat nie net voetsole pynig nie, maar ook deur fietsbande en leer kan steek.  

Die VSA het in 1961 en Suid-Afrika in 1962 natuurlike plaagbeheer op die duwweltjie begin toepas deur twee insekte (kalanders) uit Europa in te voer, naamlik Microlarinus lareynii en M. lypriformis.
Microlarinus lypriformis lê eiertjies aan die stingels en blare se onderkante en die larwes ontwikkel daar om die plant te vreet.

Microlarinus lareynii is inheems aan Italië, Frankryk en lande in die Middellandse Seegebied en lê tussen 250 en 450 eiers in die duwweltjie se saadkapsules. Die larwes ontwikkel binne-in die saadjies en verorber dit. Ná 25 dae is daar een tot drie volwasse kalanders per saadkapsule.


‘n Regte doring in die vlees
Foto’s: Wikipedia

 

© 2024 Die/The Bronberger