Omgeruil en agterstevoor Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Saturday, 14 November 2020 08:25
Untitled Document

Hy wonder soms of die mense wat die diere se onderdele name gegee het heeltemal nugter was.
Só sê Dom Boer. Dom Boer, sê hy, is sy skrywersnaam en dit is aan wie die dinge wat hy in die Bronnie kwytraak, toegedig moet word. So gemaak dan.

Hy sê dié wat nie boere is en dit nie reeds weet nie moet maar in die woordeboek gaan kyk – ‘n bees se oogspier sit baie ver van sy oog af. Die oogspier van ‘n bees sit op sy rug.

‘n Mens sou ook reken dat ‘n dermatoloog iets met die ding se ingewande te doen het en glad nie met sy vel nie.

Dan is daar ‘n ding wat hom veral laat wonder oor die naamgewers se nugterheid: As hy nie geweet het nie, sou hy eintlik die bekkenbeen heel aan die anderkant van die bees gesoek het. En die kakebeen weer aan die ander kant . . .

Ou Poon deel ook hier onder ‘n bydrae wat Dom Boer sy bepeinsing vir die dag noem:

“Ongelukkig het ek nou die presiese aantal vergeet, maar as ek reg onthou het liewe oorlede ou oom koning Salomo meer as driehonderd vroue en so seshonderd of meer bywywe gehad.”

“’n Mens wonder hoe hy dit reggekry het om met soveel kywende vroumense oor die weg te kom, maar as ‘n mens dit reg beskou, wys dit eintlik net hoe slim liewe ou oorlede oom Salomo was.”

“Ek het so rofweg gaan uitwerk: Met soveel vroue en bywywe het hy elkeen van hulle omtrent een keer elke drie jaar gesien.”

“Nou, ek sal ook oor die weg kan kom met ‘n vrou wat ek net een keer in drie jaar sien.”

En dan skryf hy onder die hofie: ‘Elke kind het darem iets’: “Mangels het ook ‘n rol in die lewe. Ek sal mangels ewig dankbaar bly, want as dit nie vir mangels was nie, sou ek my kinderjare heeltemal sonder aandag of erkenning moes slyt.”

“Dit was elke keer so as my ma ‘n nuwe vriendin ontmoet. Dan het sy na my broer gewys en gesê: ‘Dit is nou my oudste seun, Koot, op wie ek so trots is. Dit is hy wat so slim is en altyd eerste staan in sy klas en so mooi kan sing en so goed kan klavier speel en so mooi kan versies opsê en so vinnig kan hardloop en so vlot kan Ingels praat en so goed kan koek bak en so mooi kan teken en so mooi kan skryf en vir wie al die juffrouens by die skool so lief is en wat my so mooi help in die huis en so fluks en voorbeeldig is en wat altyd al die pryse by die talentkompetisies wen.’

“En dan het sy na my gewys en gesê: ‘En dit is nou ou Buks. Hy is die enetjie wat so aan sy mangels ly.’ Dankie, Mangels, vir my kortstondige plekkie in die son.”

“Maar toe, op 27 jaar, het ek self die mangels laat uitslag en sedertdien bly daar niks oor waarmee ek kan aanspraak maak op roem of erkenning nie . . .”

Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za
 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger