Skoenlappers, motte, vlinders, nagvlinders . . . Wiefer is waffer? Dan is daar nog diegene wat sê ’n skoenlapper is ’n vlinder, maar nie alle vlinders is skoenlappers nie.
Dit is net waar as ‘n mens na die oorsprong van die woord ‘skoenlapper’ kyk. Die ‘Etimologiewoordeboek van Afrikaans’ sê dat die woord sy oorsprong vanaf die Nederlandse woord, ‘schoenlapper’ – ‘n skoenhersteller – gekry het omdat die lapplekke op skoene baie soos die bont vlerke van die insek lyk.
Die eerste optekeninge in Afrikaans is in 1844 deur Antoine Changuion in die vorm ‘schoenlapper’. In 1880 het Arnoldus Pannevis die woord ‘skoenlapper’ begin gebruik. Dit beteken seker dan dat ‘n vlinder wat nie ‘lapplekke’ op sy vlerke het nie, nie ‘n skoenlapper kan wees nie.
Skubvlerkiges (Lepidoptera) is die tweede grootste orde in die klas van insekte en sluit vlinders, motte en ratsvlieërs in. Daar is tussen 80 en 100 families in dié orde, wat vroeër ingedeel was in vlinders wat in die dag vlieg en motte wat snags vlieg. Deesdae word die begrippe ‘primitiewe vlinders en motte’ (suborde Jugatae) en ‘hoër vlinders en motte’ (suborde Frenatae) egter gebruik.
Soos baie ander insekte ondergaan skubvlerkiges ’n gedaanteverwisseling: Uit die eier kruip ’n larwe, wat in dié orde ’n ruspe heet; dan volg die papie in die geval van vlinders en die kokon by motte, waaruit die gevleuelde volwassenes ontwikkel.
Roespuntjonker
Foto: Wikipedia
Verskil
Wat presies is die verskil tussen motte en vlinders? Jy sou sê dat vlinders bedags vlieg en helder kleure het en motte snags vlieg en donkerder, dowwer kleure het. Tog is daar nagvlinders, wat ook soms as uiltjies bekend staan, wat meestal grys of bruin is, maar sommige nagvlinders het gekleurde agterste vlerke.
Vlinders en motte het twee voelers en ses pote. By vlinders is die voelers knopkierie-vormig en die geveerde antennas van motte verskil volgens die spesie. Vlinders se lywe is skraal, terwyl motte mollig is.
Die maklikste manier om dié twee uit mekaar te ken is die manier hoe hulle gaan sit: Vlinders se vlerke is meesal toegevou, alhoewel hulle hul vlerke kan oopmaak vir vertoon of as afskrik metode, en motte se vlerke is meesal oop of bykans parallel met die oppervlak waarop die mot sit.
Sondagsrokkie
Foto: Wikipedia
Delikaat
Elke verteenwoordiger van die vlinder- en mot-orde kan dadelik herken word aan ’n klompie kenmerke wat by geen ander insektegroep voorkom nie. Die bekendste daarvan is hulle vlerke: Vier delikate deursigtige strukture, wat met ’n stelsel dun ribbes of are versterk word. Die kleurpatrone op vlinders en motte se vlerke word deur ontelbare, mikroskopies klein skubbetjies, wat dakpansgewys op die chitienlaag gerangskik is, bepaal.
Elke skub bestaan uit 20 baie dun plaatjies, wat die lig soos glasprismas of kristalle in verskillende kleure breek. Soos vlinders ouer word, val skubbe van die vlerke af, en laat kolle van deursigtigheid waar die chitienlaag blootgestel word. Die kleurstowwe in die skub word deur die organisme se dieet bepaal.
Die bedreigde Brenton-bloutjie
Foto: Stockvault
Tong
Vlinders en motte het ’n opgerolde suigtong; ’n hol buis waardeur blomme se vloeistofnektar opgesuig word. Wanneer hulle nie voed nie, is die tong onder die kop opgerol. As die tong uitgesteek word, is hy meestal net so lank of selfs langer as die insek.
Vlinders leef van ‘n vloeibare dieet as hulle aan ’n spesie behoort wat enigsins as volwassenes voedingstowwe inneem. Die ruspe-fase van vlinders en motte is die enigste outjies wat vreet en nie suig nie.
Elke ruspe word uitsluitlik op sekere plante aangetref, en elke spesie het sy eie gasheerplante. So is daar ’n baie nou verband tussen plant en insek by die yuccamot, wat in simbiose met die yuccapalm leef. Die vroulike mot versamel ’n bol stuifmeel uit die blom van een plant en druk dit dan op die stamper van ’n ander plant se blom terwyl sy eiers in die vrugbeginsel lê.
Proe
Vlinders proe letterlik met hulle pote. Wyfie-vlinders land op verskillende plante en trap-trap op die blare rond tot die plant sy sappe vrystel. So help die smaakreseptore op hulle pote hulle om gasheerplante te vind en kos op te spoor.
Vlinders en motte kan ook dinge op blomme sien wat ons nie kan nie. Hulle halfbolvormige saamgestelde oë kan ultraviolet lig waarneem. Baie blomme het ’n sogenaamde ‘heuningmerk’, wat wys waar die nektar gevind kan word en wat baie goed vir dié gevleueldes sigbaar is. |