Voorwerpe wat bande beskadig gevind Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 14 November 2020 08:03
Untitled Document

Die Boschkopse polisie het op 15 Oktober ‘n landelike beveiligingsaksie op Mooiplaats, Zwavelpoort, Tierpoort, Donkerhoek, Kleinfontein en Rhenosterfontein uitgevoer.

Meer as 57 kleinhoewes is deursoek en die polisie het inbraak-toerusting en tuisgemaakte voorwerpe, wat in paaie gesit word om motors se bande te beskadig, op Donkerhoek gevind.

Polisiewoordvoerder, sersant Yeroboam Mbatsane, het gesê dat dié skerp voorwerpe op die N4-snelweg en omliggende gebied gebruik word.


Dié tuisgemaakte voorwerpe word in paaie gesit om motors se bande stukkend te steek
Foto: Verskaf

In Julie het ons berig dat motoriste wat in die nag op die Ou Bronkhorstspruitpad (R104) in die Donkerhoek-omgewing ry, gewaarsku is dat skerp voorwerpe in swart asbliksakke op die pad geplaas word om voertuie se bande te beskadig.

Adjudant-offisier Cobus Ras van die Boschkopse polisie het toe gesê dat motoriste beroof word sodra hulle stop. Hy het gesê dat mense nie langs die pad moet aftrek nie, veral nie naby of onder ‘n brug nie. Ry so ver as jy kan tot by die naaste veilige plek, het hy gesê.

Verlede jaar het ons berig dat daar verskeie misdaad-voorvalle in dieselfde omgewing naby die Donkerhoek/Boschkop-afrit van die N4-Oos snelweg was. ‘n Man is in die kop geskiet nadat hy van die snelweg afgetrek het omdat sy motor se band deur ‘n stuk metaal beskadig is.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger