Engelspraat is ’n ding wat baie
plattelanders nie sommer uit
vrye wil doen nie. Net uit selfverdediging
soms, soos ’n sekere
Namakwalander eens gesê het.
Nou, vertel ou Faan dat ou Zack ’n
ding vertel wat ou Frik op ’n keer vir
hom wat Zack is, vertel het oor ou
Mof, wat self nie te gekonfyt was
met die besig van die rooi taal nie.
Frik en Mof was op ’n rugbytoer in
Ingeland en dit gebeur toe dat hulle
die betrokke aand etegaste is by ’n
baie grênd Ingelse gesin. Hy dink dit
was aan’t huis van ’n lord en ’n lady
of dalk was dit ’n duke en dukess of
’n sir en ’n madam, sê Faan. Hy weet
nie, maar dit was sommer baie
hogere Ingelse.
Hoe ookal, dit gebeur toe dat Frik
en Mof aansit vir ete saam met die
sir en sy madam en ander baie
grênd, baie Ingelse gaste.
Met die geselskap wat aanloop
gegee het tot die aansit vir ete, het
ou Mof glo nogal mooi reggekom
met ’n tusseninse ‘yes’ of ’n ‘no’ en
het hy homself hier en daar selfs
oortref met ’n ‘my word!’ as die
vertelling dit regverdig, sê Frik.
Maar dinge het lelik begin lol toe sir
gasheer voor die aanvang van die
ete vir ou Mof vra: “Will you be so
kind and say grace, please.” Frik sê
Mof het so agter sy hand uit vir hom
wat Frik is gefluister: “Wat sê die
Ingelsman nou?” En Frik het terug
gefluister: “Hy sê jy moet bid, man”
Uitkomkans was daar nie en ou Mof
het sy groot borselkop laat sak, ’n
slag keel skoongemaak en maar
aangehef. Nou vertel Frik dat daar
uit die mond van sy vriend Mof vir
die volgende paar minute die
vreemdste gemompel en geprewel
gekom het wat jy jou op hierdie
aarde kan voorstel.
Hy wou amper dink ou Mof het in
tale begin praat. G’n mens kon g’n
woord uitmaak van wat hy sê nie, sê
Frik. En toe Mof so hele ent voortgesleep
het met sy ‘mompel, mompel,
prewel, mompel, momp,’ toe
kom daar ’n helder en luide ‘amen!’
Die eerste en enigste woord wat
almal om die groot tafel kon hoor
en kon verstaan.
Na die kort, oorblufte stilte wat op
Mof se amen gevolg het, het die
span Ingelse glo hulle stywe bolippe
skiet gegee en begin om ‘small talk’
te maak. Dis toe dat Frik hom na sy
vriend hier langs hom draai en sê:
“Maar ou Mof, ’n mens kon dan nie
’n woord hoor wat jy sê nie.”
En blitsvinnig en half vies antwoord
ou Mof: “Maar ek het mos nie met
jou gepraat nie, het ek?” |