In dié rubriek voorsien inspekteur Wynand van der Merwe,
hoof van Sigbare Polisiëring, SAPD Boschkop, nuttige
landelike veiligheidswenke
Inspekteur Wynand van der Merwe
Plaasaanvalle is aan die toeneem,
en ons hier in SAPD
Boschkop-wyk het die bitter
misdaad ook nie vrygespring nie.
Een plaasaanval is een te veel, en
daarom wil ons van SAPD Boschkop
se kant af probeer om ’n paar veiligheidswenke
te verskaf vir landelike
beveiliging.
Saam kan plaas- of plotbewoners,
en ons as die SAPD, ’n verskil maak
wat lewens kan red. ’n Paar eenvoudige
wenke kan die verskil tussen
lewe en dood beteken.
Draadomheinings rondom die perseel
is beter as hoë mure vir beter
sigbaarheid van patrollerende personeel.
Lemmetjiesdraad en elektriese
omheinings met alarmstelsels
is ook ’n goeie belegging.
As ’n elektriese heining egter onbekostigbaar
is, kan ’n baie praktiese
en goedkoop manier gebruik word.
Maak leë blikke met klippies daarin
of selfs klokke aan die bestaande
omheining vas. Dit is net so ’n goeie
vooraf waarskuwingstelsel. Onthou
om die hekke te sluit.
Sekuriteitshekke voor alle ingangsdeure
na die woning met stewige
slotte en diefwering voor al die vensters
is ’n moet. Dit is egter ’n goeie
idee om een venster se diefwering
op so ’n manier te installeer dat dit
’n miniatuur hek is wat met ’n slot
sluit. Sou ’n brand in die woning uitbreek,
kan die venster gebruik word
vir ’n nooduitgang.
Skep ’n veilige kamer met versterkte
deure, veiligheidshekke en
diefwering; verkieslik die hoofslaapkamer.
Die slaapkamer is die
weerbaarste plek in ’n woning, sou
’n aanval of rooftog in die aand
gebeur. Hou ’n selfoon in die
vertrek.
Installeer ’n alarmsisteem in die
woning. Daar is deesdae baie eenhede
wat nie buitensporig duur is
nie. Installeer ’n sirene buite op die
huis se dak, wat ver gehoor kan
word. Noodknoppies in die woning
is ook belangrik. Plaas dit so dat dit
vinnig en veilig geaktiveer kan word
in ’n noodgeval.
Installeer buite-alarms wat beweging
buite die woning optel. Dié
soort sisteem gee ’n mens meer tyd
om te reageer voordat ’n betreder
in die woning is.
In noodgevalle skakel 10111 van ’n
Telkomlyn of 112 van ’n selfoon of
bel SAPD Boschkop by
082-557-6996.
|