Sadisme by knoopskool geleer Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 16 October 2020 12:49
Untitled Document

Darem een goeie ding wat die Kovid-gogga se aankoms met hom saamgebring het, sê Gert Mossie, is die aflewering van kruideniersware. Nie hy of die wederhelfte is juis geesdriftige inkopie-mense of winkel-besoekers nie.

Dit het nou al gewoonte geword dat ons naaste supermark ons lysie per watsaap kry en dan die nodige aankopies later op die voorstoep kom aflaai. ‘n Lewensveranderende, luukse ervaring vir hulle, sê Gert Mossie.

Maar, sê hy, soos met die meeste nuwighede, is daar altyd iets wat pla of nie heeltemal na wense is nie. Hulle kom toe mos agter dat naaste supermark die heerlikste brood bak en begin toe om van die klaar-gesnyde soort as deel van hulle bestelling by te voeg.

En dis net hier waar ‘n eindelose frustrasie gebore word. Want die ou wat die brood in die plastiek toeknoop, is sekerlik ‘n sadis, sê Gert. Of dit, of hulle stuur die mense na ‘n spesiale brood-toeknoop-skool toe, waar die toeknoop-lektor ‘n sadistiese streep weg het.

Hy is seker die kursus is ‘n lang, moeilike en intensiewe een, want om só ‘n onlosmaaklike knoop in daardie flenterdun plastiek gemaak te kry, verg vaardige en goed opgeleide vingers en eindelose geduld. Om dit sonder voorval, knoopwoorde en swets weer los te kry, is menslik onmoontlik.

Selfs hy, sê Gert, wat nogal baie vernuftig en knap is met die aanwend en gebruik van ‘n knipmes, staan nie ‘n klip se kans nie. Elke keer as die smaaklike brood in sy baie dun omhulsel afgelaai word, gaan sit hy met nuwe vasberadenheid by die kombuistafel: Vandag wys hy daardie vasknoper wie’s baas . . .

Moenie glo nie. Jy kan so geduldig en lank fyntjies wikkel en trek aan die monster-knoop en met die Joseph Rogers se punt die vernuftigste operasie denkbaar probeer uitvoer – die gevolg gaan dieselfde bly: Iewers langs jou sukkelpad gaan daardie ragfyn plastiese sakkie skeur en die brood gaan die wêreld vol val, sê Gert Mossie.

Hy het terloops, so met die nuwe koopmetode saam, ‘n gewoonte aangeleer om pakkies wat afgelewer word te ‘lees’. Só sien hy op die pakkie waarin twee balpuntpenne is (van die biek soort) staan geskrywe: “Xtra Life. Writes over 2 km.”

Ná ‘n bietjie bespiegel, verbeel en dink oor dié stelling, besluit hy toe hulle bedoel seker jy kan twee kilometer met penpunt op papier aflê voor die ink op is, sê Gert Mossie. Maar hy is seker op die verpakking in Japan of Sjina staan daar eerder iets soos: “Writes over 20 metres.”

Proefkonyn
Hy sien, sê Grootpiet-in-die-hoek, die Wêreld Gesondheidsorganisasie (Who?) soek oral vrywilligers waarop nuwe entstowwe teen die Kovid-gogga getoets kan word. Self het hy nie juis ‘n voorliefde vir entstowwe en spuitnaalde nie en is hy eintlik te veel van ‘n sissie om proefkonyn vir die onbekende te speel, sê Piet.

Nou het hy gedink dit sou dalk ‘n slim plan wees om die entstof op ministers en parlementslede te toets. As hulle dit oorleef is die entstof veilig. Indien nie, is die land dalk veiliger . . .

Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za
 

© 2020 Die/The Bronberger