Ongedierte op snelweg Print E-mail
News - Briewe
Friday, 16 October 2020 12:29
Untitled Document

Gerhard van Zyl van Moreletapark:

Ten geleide wil ek net noem dat ek die Bronnie telkens baie geniet, doet so voort!

Toe ek in die September-uitgawe op bl 10 van Mooikloof se luiperd lees, het dit my gedagtes na 1994 teruggevoer. Op die betrokke aand, eintlik diep in die nag, was ek saam met ’n vriend van my op die N1, suidelike rigting.

Ons was die aand by ’n ander vriend in Sinoville se verjaarsdagpartytjie, nét mans, en ek erken ruiterlik dat ons ’n bietjie van Oude Meester se bekende "koffie" geniet het. Hoe ook, toe ons deur die poort neffens die bekende klipbrekery ry, het daar meteens ’n ongedierte so 50 meter voor ons van regs na links oor die snelweg gespaander.

Marius het rem getrap, maar die dier was blitsig oor die pad op die padskouer en het verdwyn. Ons was regtig uiters verbaas en een van ons het uitgeroep, “maar dis mos ’n b... tier daai”. (In ons land word luiperds nogal dikwels tiers genoem.)

Ons het aangery en in die dae daarna die voorval met andere gedeel, maar is gespot dat ons eintlik ’n pienk olifant gesien het (u lesers sal weet waarop dit sinspeel!).

Wel, "koffie" agter die blad of te nie, wat ek gesien het, had ek gesien en dit wás ’n luiperd, spot maar!

Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za
 

© 2020 Die/The Bronberger